MunicipalNewsUpdate

Laer Volkskool se parkeerprobleme aangespreek

Strate om Heidelberg skool waarskynlik in Januarie verander.

‘n Tekort aan parkering by Laer Volkskool gaan eersdaags hopelik iets van die verlede wees nadat die skool toestemming van Lesedi Plaaslike Munisipaliteit (LPM) verkry het om strate en parkeerplekke om die skool aan te pas om verkeersvloei te verbeter.
Parkering vir ouers wat kinders op- en aflaai asook leerders se veiligheid het ‘n groot probleem geword. Ná vele klagtes (veral omdat ouers die perseel van die Shell motorhawe oorkant die skool in Voortrekkerstraat toeparkeer het) en nadat leerders se veiligheid in gedrang gekom het, het die skool en beheerliggaam besluit om in te gryp.

 

Tydens ‘n algemene jaarvergadering in Oktober 2018 is besluit dat Dr Willem Sprong (beheerliggaamslid vir infrastruktuur en veiligheid) die aangewese persoon is om die projek te inisieer.

 

‘n Ingenieur (wat ook ‘n spesialis in verkeersake is) is aangestel om impakstudies te doen en met voorstelle te kom. ‘n Voorstel is gemaak dat ‘n gedeelte van Van der Westhuizenstraat (tussen Marais- en Begemanstraat) in ‘n noordelike eenrigting verander word.
Parkeerplekke in Begeman- en Van der Westhuizenstraat sal na skuinsparkeerplekke verander word om meer voertuie toe te laat. Die voetoorgang in Voortrekkerstraat (voor die skool) sal ‘n paar meter verder na die hoek van Voortrekker- en Pretoriusstraat verskuif word.
Die voorstel en impakstudie is in Maart vanjaar by LPM ingedien. Die munisipaliteit het die voorstel goedgekeur mits die skool vir alle kostes verantwoordelik is. Volgens Sprong het die skool ingestem en is daar reeds vir die projek begroot.
Dit het die munisipaliteit etlike maande geneem voor ‘n besluit geneem is en toestemming is eers amptelik op 12 November verleen. ‘ n Tenderproses moet nou gevolg word en die hoop is dat die werk middel Januarie sal afskop.
“Ons het volle vertroue dat die voorgenome veranderinge die verkeersvloei en parkeerprobleme om die skool drasties gaan verbeter,” het Sprong gesê.
Enigiemand met navrae oor die projek kan hom by 083 611 9589 skakel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button