John Vorster Stadion van historiese waarde gestroop
Indien City of Ekurhuleni (CoE) nie onmiddellike stappe neem om John Vorster Stadion op te knap en behoorlik in stand te hou nie, is die kanse goed dat dit na sowat ses dekades ‘n soortgelyke lot as Pam Brink Stadion in Springs (waarvan bykans net bourommel oor is) gaan tref.

John Vorster Stadion het sy ontstaan in die vroeë 1960s toe ‘n plaaslike Italiaanse kraglynmaatskappy dit vir gebruik deur hul sokkerspan opgerig het. Vir menige jare was dit die gasheer stadion vir groot sokkerwedstryde wat duisende besoekers van omliggende dorpe gelok het. Gedurende die laat 1960s na onderhandelinge met Hannes Visagie, is die stadion (sonder enige van die aangrensende geboue) vir ‘n applel en ‘n ei aan die destydse Nigel Stadsraad verkoop. Die geboue agter die oop-pawiljoen is volgens plaaslike inwoner en voormalige burgemeester Willie Ras (snr) in die vroeëe 1970s met herwinde bakstene van geslope myngeboue opgerig en na regte behoort die stadion as erfenisgebied verklaar te word.
“John Vorster Stadium is ryk aan historiese waarde. Dit was nog al die jare Nigel se trots, maar ek is teleurgesteld oor die toestand waarin dit nou verkeer. Dit is ‘n skande en ek kry skaam as ek dink dat besoekers dit so moet sien. Indien daar nie dadelik ingegryp word nie, is ek bevrees die stadion sal tot niet gaan en tesame daarmee, ‘n deel van die dorp se geskiedenis ook,” het Ras sy kommer uitgespreek.

Plaaslike skole het hulle ook in Januarie tot HERAUT gewend nadat atlete wat besig was met voorbereiding vir die atletiekseisoen, ernstige snybeserings weens glasskerwe op die grasveld opgedoen het. Onderwyser en atletiekafrigter van Hoërskool John Vorster, Klarinda Stander en haar span het gedurende Desember moue opgerol en self die lang gras gesny en ongelyke dele op die baan met grond gevul sodat Vossies ten minste hul interhoër kon aanbied.
Selfs Wollaston Labuschagne (DA raadslid) was onlangs met skok en afgryse vervul na ‘n besoek aan die gewilde sportfasiliteit (wat onder CoE se sport-, rekreasie-, kuns en kultuurafdeling val). Dit is duidelik dat die stadion nie behoorlik onderhou word nie. Daarvan getuig talle gebreke soos verstopte rioolpype, gebreekte vensters en pawiljoensitplekke, lendelam heinings, vuil en onbruikbare toiletgeriewe, beskadigde geboue, ongelyke atletiekbane en vele meer.
Die meeste van die fasiliteite by John Vorster Stadion is in ‘n haglike toestand en dit gaan miljoene rande kos om die stadium behoorlik op te knap.
Labuschagne het egter onderneem om die stadion as ‘n prioriteitskwessie vir rehabilitasie op die CoE se integrale onwikkelingsplan (IDP) te lys, sodat fondse oor die volgende paar begrotingsjare beskikbaar gestel kan word.



