MunicipalNews

Opvolg: Nigel Wildspark – DA gryp in

Na beriggewing oor Nigel Wildspark wat moontlik kan sluit (HERAUT 3 Junie), het die Demokratiese Alliansie (DA) in Ekurhuleni tot aksie oorgegaan om vir dié gewilde park met sy verskeidenheid diere, se voortbestaan te veg.

“Ekurhuleni Metroraad (EM) het ‘n verantwoordelikheid om sy bates te beskerm en dit te alle koste behoorlik in stand te hou, maar in hierdie geval word die welstand van die diere weens gebrekkige administrasie verwaarloos,” het André du Plessis (woordvoerder: DA Ekurhuleni omgewingsake) tydens ‘n onlangse besoek aan die park gesê.

Tydens dié besoek is daar bevind dat die kontrakteur wat verantwoordelik is vir opgradering van die heining, homself vermoedelik duisende rande deur brouwerk wou bespaar.

“Volgens die tenderkontrak moet die panele 2,1m hoog wees, maar die panele wat intussen vervang is, staan slegs 1,8m hoog. Boonop het die kontrakteur laslappiewerk toegepas deur panele met sowat 30cm te laat oorvleuel en daarna met groot klippe toegepak om dit te probeer verdoesel,” het Du Plessis verduidelik, terwyl hy gewys het hoe maklik van die kleiner diere in die dele wat oorvleuel kan vassit.

Nog ‘n groot kommer is die afwesigheid van brandbane om die wildspark.
DA raadslid Wollaston Labuschagne het na die veldbrand van 29 Junie 2016 verwys, waartydens ‘n groot gedeelte van die grasveld (wat hoofsaaklik as weiding dien) vernietig is.

Was dit nie vir Nigel Nooddienste asook lede van die publiek wat gehelp het om die vlamme te blus nie, sou daar niks van die wildspark of sy diere oorgebly het nie.

“Veldbrande wat buite beheer raak kan groot skade aanrig en selfs menseverlies inhou, veral met Laerskool Hannes Visagie aangrensend tot die park. Daarom is brandbane van kritiese belang,” het Wollaston gesê en bygevoeg dat dit sy eerste prioriteit is om te verseker dat die parke-afdeling onmiddellik daarmee wegspring.

Ander areas soos Spruitview Park in MacKenzieville het ook die besoekende amptenare se belange geprikkel, veral toe hulle sien in watter haglike toestand die onvoltooide park verkeer. Dié speelpark wat sedert grondverskuiwing groot reaksie onder ongelukkige inwoners uitgelok het, het EM duisende rande uit die sak gejaag en volgens Labuschagne het die kontrakteur boonop kort na betaling verdwyn en nooit weer sy gesig by die perseel gewys nie.

Intussen het Du Plessis onderneem om die kwessies met die DA se oorsigkomitee op te neem om EM voor stok te kry.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Magda Maritz

News editor and journalist for HERAUT newspaper. 'Read what you like and like what you read' is my motto.

Related Articles

Back to top button