MunicipalNews

Jordaanpark toegangsbeheer-saak duur voort

Jordaanpark Forum se Hooggeregshof aansoek teen Lesedi Plaaslike Munisipaliteit (LPM) word volgens Dr Willem Sprong (voorsitter) voorlopig op 9 September aangehoor. 

In hierdie aansoek word die hof gevra om ‘n beslissing te maak in Jordaanpark Forum se aansoek om toegangsmonitering van die woonbuurt. Dit sluit ook ‘n aansoek tot minagting van die hof teen LPM in, ná die uitspraak wat op 9 Desember 2019 gelewer is.

HERAUT het gedurende Desember 2019 berig oor LPM se versuim om Jordaanpark Forum (‘n geregistreerde nie-winsgewende maatskappy) se aansoek om toegangsmonitering te ondersteun, ondanks die regte prosedures wat gevolg is.

Dit het daartoe gelei dat ‘n hofbevel ten gunste van die forum toegestaan is. Ten tye daarvan het Dr Sprong gesê die behoefte om Jordaanpark se in- en uitgangroetes te moniteer, was reeds in 2018 tydens ‘n inwonersvergadering bespreek, nadat ‘n vlaag huisrowe en inbrake die buurt geteister het.

“Die munisipaliteit het maande gehad om te reageer en selfs ‘n hofbevel wat op 16 Desember 2019 deur die balju op hulle beteken is, het geen vrugte afgewerp nie. Ons neem nie die reg in eie hande nie en daarom het ons regslui opdrag gegee om die aansoek in te dien sodat ons kan voortgaan sonder LPM se bydrae/toestemming,” het Dr Sprong gesê.

Die aansoek sluit die volgende in: aansoek teen LPM vir minagting van die hofbevel wat in Desember 2019 uitgereik is, bekragtiging van die kostebevel sodat alle regkostes aangegaan, deur LPM betaal word en goedkeuring vir die oprig van toegangsbeheerpunte. Indien die hof beslis dat die beveiliging van die buurt sonder die munisipaliteit se toestemming mag voortgaan, kan toegangsbeheerpunte (wat ondermeer valhekke in Wessels- en Uniestraat insluit) binnekort opgerig word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Magda Maritz

News editor and journalist for HERAUT newspaper. 'Read what you like and like what you read' is my motto.

Related Articles

Back to top button