Local newsNews

Leer ons mense ken Corlett du Preez

Corlett du Preez het die voorreg gehad om in 2020 ’n semi-finalis vir Mev Suid-Afrika te wees.

Sy vier hierdie jaar haar 10de huweliksherdenking met Jan du Preez en woon al vir 32 jaar in Nigel. Die egpaar het ’n gekombineerde familie van drie kinders. Heraut het by die skoonheid gaan kuier om oor haar ondervinding te praat en haar beter te leer ken.

Hoe het jy by Mev Suid-Afrika betrokke geraak?

My goeie vriendin het eendag genoem dat ek aan Mev SA moet deelneem, maar op daai oomblik het ek nie gedink dat dit iets sal wees waarin ek sou belangstel nie. Maar een Sondagoggend, uit blote verveeldheid, het ek gaan kyk op hulle webtuiste en toe belsuit om in te skryf. Ek onthou nog toe ek die aansoek vorm moes invul, dit was ’n familiepoging, almal het gehelp antwoord.

Het jy in skoonheidskompetisies as jong meisie deelgeneem?

Nog nooit nie. Mev SA was my eerste een. Ek het nooit eers Mev of Mej SA/Wêreld gevolg nie.

Hoe was jou ondervinding met die oploop tot die top 25?

Dit is so moeilik om alles op te som of in woorde te sit, want dit was vir my ’n reis wat my as persoon soveel geleer en laat groei het. Met ons eerste werkswinkel het al die sprekers beklemtoon dat hierdie reis jou totaal en al uit jou gemaksone gaan gooi, jy groei nie in jou gemaksone nie en dat jy hart en siel moet gaan insit om die vrugte te pluk uit die jaar se ondervinding. Natuurlik is elke vrou wat deelneem se hartsbegeerte om met die kroon huis toe te gaan, maar ongelukkig is daar net een.

Gelukkig is ons elkeen geleer om dit dra. Jy moet elke dag 100 persent te gee, om nie op te gee nie, om jou reis te volhard en voltooi ongeag waar jy opeindig.

Wat is jou kosbaarste oomblik of herhinnering tydens die kompetisie?

Definitief die week van beoordeling. Dit was drie dae se beoordeling en die vierde dag was die funksie vir die aankondiging van die top 25. Die beoordeling was vir my emosioneel uitputtend. Jy is bang en onseker, jy het so hard gewerk deur die jaar, een verkeerde antwoord en alles waarvoor jy gewerk het is weg. Die laaste oggend was die individuele onderhoude met die beoordelaars en toe ek wakker word was die emosies net te veel.

Ek kon my trane nie stop nie, ek was skoon siek, naar, ek was minute daarvan af om die handdoek in te gooi. Maar asof dit gestuur was bel my beste vriendin (ek het haar die eerste dag ontmoet met die top 100 en daarna was ons net onafskeidbaar) en vra hoe ek voel. Ek het so gesnik (vandag lag ek lekker daaroor) en sy het geantwoord, “Hoor hier, jy beter jouself vining bymekaar kry, ek gaan nie toelaat dat jy dit nou verloor nie. Was jou gesig, drink koffie, ek kry jou oor ‘n uur by jou kamer and make it snappy. Ons kan nie laat wees nie.”

Dit is wat so kosbaar was van die reis, dat ek soveel lewenslange vriendinne gemaak het. Ons noem dit ’n sisterhood. Ons was nooit in kompetisie met mekaar nie, ons was daar vir mekaar, ons het mekaar ondersteun, want ons almal was op dieselfde reis.

Die funksie met die aankondiging van die top 25 was my grootste oomblik en iets wat vir die res van my lewe by my sal bly.

Pikkie de Beer is ook van Nigel af en dit is hoekom ek hom gevra het om my aan te trek gedurende Mev SA. Sy etiket is Willets Design Couture. Willets en Marius Bartmann het my aangetrek en grimeer.

Ons was verantwoordelik om ons eie tafels te dek en nadat ons tafels gedek was, was dit tyd om klaar te maak.
Die oorspronklike plan was ’n eenvoudige rok, want dit was buite en gedurende die middag as gevolg van Covid en toe kom Pikkie en Marius met hierdie asemrowende rok by my kamer. Hulle woorde was go big or go home, girl. Vandag staan ons nie terug vir enige iemand nie. Ek het soos die mooiste vrou op aarde gevoel.

My man het my nie eers herken toe ek opgestap het om hom te ontmoet nie. Ek sal vir ewig dankbaar wees teenoor hulle. Ek het gegloei, geskyn, en dis prysloos.

Met die laaste minute voor die aankondiging was dit weereens so emosioneel. Die wete dat dit moontlik die laaste dag van jou Mev SA reis kan wees het jou hart gebreek, maar ook aan die ander kant om te glo dat jy die beste gedoen waarnatoe jy instaat was.

Ons het agter die verhoog gesit en reg gestaan om op die loopplank te loop, en dis snaaks om te beskryf, toe dit my beurt was, toe besluit ek, dis nou die oomblik, ek gaan dalk nooit weer die geleentheid kry nie. Dit was ’n opbou en opbou na daai oomblik toe die hele jaar lank.

Ek was vreesloos, onapologeties, dit het nie meer saak gemaak of ek top 25 toe gaan of nie. Ek het klaar gewen, ek het gegroei en myself weer ontdek. Ek het aan myself bewys waarnatoe ek instaat was en was ongelooflik trots op daai vrou wat daar afgeloop het.

Niemand kon dit van my af wegneem nie. Ek het my hart en siel ingesit elke sekonde van die jaar. Al die harde werk en opofferings was 100 persent die moeite werd. Dit was ’n reis wat my soveel geleer het, my gedruk het, my met nuwe oë na myself laat kyk het.

Hoe beskryf jy dit in woorde?

Hierdie woorde sal ook altyd na aan my hart lê: Die reis is nooit verby totdat jy sê dit is verbei nie, en ek kan met alle eerlikheid sê dat my reis nou eers begin het.”

Sal jy dames aanraai om deel te neem?

Vir seker. Ek is klaar besig om voor te berei vir 2022.

As jy die geleentheid het om ’n vraag aan die beoordelaars te vra wat sou dit wees?

Die beoordelaars is al jare betrokke by Mev SA, so ek sou vra waar ek myself kon verbeter het op die platform. Daar is altyd plek vir verbetering, jy kan nooit genoeg leer nie.

Watter organisasie lê jou na aan die hart en sal jy graag by wil betrokke raak en hoekom?

Mev SA is nie net ’n skoonheidskompetisie nie, dit is ’n vrouebemagtigingsorganisaie en ons het saam Woman4Woman gewerk.

Die spesiaalste projek was die Whistle-blowing Campaign. Dit het my omgeslaan en ek gaan steeds aanhou met die inisiatief.

Dit is gebaseer op die eenvoudige konsep om jou fluitjie te blaas.

Ons het die geleentheid gekry om na skole toe toe gaan en met meisies te praat oor emosionele ondersteuning, wat so belangrik is, veral in SA wat een van die gevaarlikste lande is vir ’n vrou om in te wees.

Ons deel fluitjies uit en fokus op die feit om jou fluitjie te blaas, nie net as jy in gevaar is nie, maar ook as jy ’n ander vrou in gevaar sien, fisies en emosioneel, en dan ook om te reageer as jy ’n fluitjie hoor. Hou op wegkyk. As jy bang is om ’n fluitjie te blaas, gaan na iemand toe wat die fluitjie vir jou gaan blaas.

Dit is nie die oplossing nie, maar die begin om die noodsaaklikheid te beklemtoon dat vrouens mekaar moet ondersteun en ’n veilige spasie skep vir vrouens om uit te reik en ’n ondersteunigsplatform te hê waar vroue mekaar help.

Net ’n drukkie van omgee kan massiewe verandering in enige vrou se lewe maak.

Wat is jou stokperdjie?

Ek het as gevolg van van Mev SA begin gholf speel en absoluut mal verlief geraak op die sport.

Waar is jou gunsteling vakansieplek?

My gunsteling is vir seker ons vakansie huis in Plettenbergbaai. Ek sal met liefde enige reis oorsee ruil vir ‘n dag of twee in Plettenbergbaai.

Wat is jou definisie van innerlike skoonheid?

Liefde, saam met liefde kom alles wat mooi is.

Wat is jou boodskap aan vroue?

Dra elke dag jou eie kroon, wees lief vir jouself en glo in jouself. Wees die asemrowende vrou wat jy is, weet dat jy genoeg en waardig is en moenie toelaat dat iemand of iets dit van jou af wegneem nie. Probeer om elke dag iemand te laat glimlag en onthou jy is ook iemand.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button