Local newsNews

Leer ons mense ken – Selma Marx

Selma Marx is in 2020 by Laerskool AG Visser as hoof aangestel.

Sy woon alleen in Heidelberg aangesien haar drie kinders reeds uit die huis is. Sy het drie dogters Laetitia, Lindie en Marisa en een seun Hennie en ook een kleinkind.

Heraut het by haar gaan inloer om haar beter te leer ken. Gee ’n kort beskrywing van jou loopbaan in die onderwys tot en met jou aanstelling as die hoof van Laerskool AG Visser.

Ek kom van Bloemfontein af waar ek ‘n adjunkhoof was. Onder die skoolhoof, Louis Smith, se leiding het ek ongelooflik goeie ondervinding opgedoen wat my nou baie help as skoolhoof.

Wat sal jy altyd onthou van jou tyd by President Brand?

President Brand Skool in Pellissier is van die kleiner skole in Bloemfontein, maar staan nie vir een oomblik terug vir die groter skole nie. Die skool en die hoof se passie om ‘n kompeterende skool daar te stel laat my ook glo dat AG Visser nooit terug hoef te staan vir enige groter skool nie.

Die nuwe pos sal sekerlik uitdagings bied. Hoe gaan jy te werk om uitdagings te hanteer?

Covid-19 was verlede jaar die grootste uitdaging vir my, aangesien ek eers in Februarie hier begin het, net voor die grendeltyd. Aanlynvergaderings was skielik aan die orde van die dag en ek moes staatmaak op tegnologie om met my personeel te kommunikeer. Om daarby aan te sluit bly kommunikasie met al die ouers een van die grootste probleme, aangesien van die ouers nie toegang tot internet het nie. Ons is in ’n beplanningsfase om internet op die skool se gronde beskikbaar te stel vir ons ouers.

Wat is jou visie vir die skool?

My visie vir ons skool is om leerders die geleentheid te bied om holisties te ontwikkel – vandaar ons tema vir die jaar “Waar die avontuur begin om jou talente te ontgin”. Ons hoop dat ons wel later in die jaar ten volle ons buitemuurs sal kan aanbied. Intussen gaan ons konsentreer op ons kultuur, soos skaak, redenaars, musiek en kuns. Ons beplanning is om ‘n uitgebreide kultuursentrum te ontwikkel, waar ons rekenaarklasse ook as buitemuurs wil aanbied.

Hoe sal jy jou bestuurstyl beskryf?

Ek glo dat my personeel bemagtig moet word en dus poog ek om elkeen aan te moedig om sy/haar volle potensiaal te bereik.

Wat sal jou boodskap aan die personeel van die skool wees?

By AG Visser is die personeel ongelooflik positief en ondersteunend. Ek dink nie enige hoof kan iets bereik daarsonder nie en ek wil my personeel bedank vir hulle insette, ondersteuning en positiwiteit.
Sport en kultuur speel ’n baie belangrike rol in elke skool.

Dink jy daar word vandag nog genoeg klem gelê op die akademie?

Uitnemende akademiese prestasie is vir my ‘n prioriteit. Ek glo dat goeie beplanning, stiptelikheid en geesdrif van elke leerder ‘n presteerder kan maak. Ons het interaktiewe borde in die Graad 1 en 2 klasse laat installeer. Ons wil dit uitbrei na al die klaskamers binne die volgende paar jaar.

Ons is ‘n waardegedrewe skool en elke maand word ‘n nuwe waarde met die leerders behandel. Ek glo dat die voorleef van goeie waardes ‘n baie groter impak het op leerders as die daarstelling van ‘n stel reëls.

Wat doen jy om te ontspan en waar hou jy graag vakansie?

Ek hou daarvan om in my vrye tyd te lees en is lief daarvoor om te bak en brou. Dit is egter nie ‘n plaasvervanger vir my gunsteling tydverdryf, om met my kleinkind te speel, nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button