Dienslewering ‘n treursaak vir Nigel
“Daar is lig aan die einde van die tonnel,” meen Labuschagne. “Ons is bewus van die probleem en werk om dit reg te stel.”
NIGEL – Sedert die grendeltydperk verlede jaar bekendgestel is, het die dienslewering in Nigel en die omliggende areas ook tot stilstand gekom.
Alhoewel daar weer onlangs na die verpligtinge omgesien word, sukkel departemente soos die parke-afdeling sedert die veslapping van Covid-19 regulasies om na hul verpligtinge om te sien.
Die HERAUT het by Wollaston Labuschagne, die DA-raadslid in Nigel, gaan hoor hoekom die dorp lyk soos dit tans doen.
“Ek is bewus van die probleme met die dienslewering in Nigel,” het Labuschagne gesê. “Ek het kontak gemaak met die verskeie departementshoofde om die probleem aan te spreek en hul hulp te kry om dit op te los.”
Labuschagne het uitgebrei oor die probleme, spesifiek rakende die instandhouding van parke en tereine in die dorp.

“Die parke-afdeling se masjienerie is al sedert die begin van Covid-19 buitewerking en moet eers gediens word voordat dit weer gebruik kan word,” het Labuschagne vertel.
“Die meganiese gereedskap het vir ’n tyd gestaan en was onbruikbaar weens die inperking. Omrede die gereedskap deur middel van brandstof werk, moet dit elke paar maande gediens word. Die proses kon egter ook nie gebeur nie as gevolg van die inperkingsregulasies.
“Die parke afdeling werk tans deur middel van ’n tenderproses,” het Labuschagne bygevoeg.
“Hulle huur onafhanklike kontrakteurs om namens die munisipaliteit die gras te sny, parke op te knap en ook bome te snoei totdat die masjienerie weer gebruik kan word.
“Omdat elke tender deur verskeie mense goedgekeur moet word, vat dit tyd om gefinaliseer te word. “Die parke-afdeling van die Stadsraad het egter reeds in September begin om onafhanklike kontrakteurs te gebruik vir die instandhouding. “Verskeie gebiede in die dorp word geprioritiseer vanweë die beskikbare begroting wat beperk is.

“Die departament benader die proses so om te verseker dat fondse nie sal opraak gedurende die spitsseisoen nie.
“Ons is bewus van lede in die gemeenskap wat dit op hulself neem om die instandhouding te doen,” het Labuschagne gesê.
“Ons is dankbaar vir ons gemeenskap wat hiermee uithelp, en ons hoop dat die stand van sake binnekort sal terugkeer na normaal.”
Kommentaar is versoek van die Stad van Ekurhuleni. Sodra dit ontvang word, sal dit gepubliseer word.



