Local newsNews

Teëspoed langs renbaan vir gesoute renjaer

Weens administratiewe probleme het Mostert ook in die twee-liter-klas beland, wat beteken het dat hy en sy oupa in dieselfde klas moes deelneem.

NIGEL – Spoedvraat en motorwedrenjaer Fred van Zyl (77) en sy kleinseun, Hennie Mostert (22), het onlangs aan ’n streekskampioenskap te Bronkhorstspruit deelgeneem.

Die dag van motorsport het egter ook sy probleme ingehou vir die oupa en sy kleinseun.

“Dit was ’n perfekte dag gewees,” het Van Zyl vertel.

“Die baan was mooi, daar was geen modder nie en baie sand, wat die hoë spoed moontlik gemaak het.”

Die RTP Rally Sprint Regionals het die oggend afgeskop, waartydens Mostert in die 1 600-klas ingeskryf was vir die dag, en Van Zyl in die twee-liter-klas.

Weens administratiewe probleme het Mostert ook in die twee-liter-klas beland, wat beteken het dat hy en sy oupa in dieselfde klas moes deelneem.

Elke deelnemer moes die baan in ses fases aanpak. Dus het Van Zyl nie dieselfde tyd as sy kleinseun by die beginstreep weggetrek nie.

“Hennie het oorspronklik die nuwe klas met sy eie renmotor aangepak,” het Van Zyl gesê.

“Maar nadat hy sy eerste fase voltooi het, het hy my gevra of hy eerder met my kar kon ry.”

Mostert het nog nooit van tevore met sy oupa se twee-liter Sentra die wedrenbaan aangedurf nie. ’n Feit, wat volgens Van Zyl, ’n moontlike probleem kon wees, aangesien die verskil in voertuie ook verskillende bestuurtaktiek op die baan verg.

Mostert het hom egter goed van sy taak gekwyt en sy oupa se kar uitstekend beheer; hy het ’n tweede plek behaal.
Nadat hy sy tweede fase op die baan voltooi het, het Mostert met sy oupa meegedeel dat die kar se vyfde rat nie werk nie.

“Ons vermoed dat iets in die ratkas losgekom het, maar ons kon niks by die byeenkoms aan die probleem doen nie. Die vyfde rat was nie meer ’n opsie vir gebruik nie.”

Van Zyl het later ook die baan met die Sentra aangedurf, met die wete dat daar ’n probleem was met die ratte.

“Ek het my eerste fase al die pad in vierde rat gery,” het Van Zyl gesê.

“Teen 8 000 omwentelinge kon ek ’n spoed van 150km/h haal, maar dit was net nie hoog genoeg nie.
“As ek my vyfde rat kon gebruik, sou ek ten minste ’n spoed van 190km/h behaal het. Daarom het ek maar besluit om handdoek in te gooi en nie my fases klaar te maak nie.

“Ek kon boonop ook nie goed sien nie weens die valhelm wat ek gedra het. My visie was vreeslik beperk,” het Van Zyl mee afgesluit.

Van Zyl hoop dat hy teen die volgende wedren, wat nog nie ’n vaste datum het nie, met verbeterde sig die baan sal kan aandurf.

Die katarakte wat Van Zyl begin ontwikkel het, soos voorheen deur HERAUT berig, word binnekort verwyder.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button