HEIDELBERG – Marli du Plessis (17), ’n leerder aan die Hoër Volkskool, het Maandag die geleentheid gekry om op Ekurhuleni FM haar opinie oor Internasionale Vrouedag te lig.
Dié dag is Maandag gevier en sy is deur die skoolhoof, Sias Botha, na die radiostasie vergesel.
“Ek was so bietjie uit die veld geslaan toe die skool my vra om ’n praatjie oor die radio te lewer,” het Marli vertel.
“Ek het dit glad nie verwag nie, maar ek was tog opgewonde. Ek het dadelik gedink, wat as my tong knoop of wat as ek iets verkeerd sê. Maar op die ou einde was dit vir my baie gaaf gewees om te kon gaan.
“Vir my is enige vrou ’n baie sterk en hardwerkende persoon wat waardeer moet word.
“Meeste vroue kry die nodige opleiding om ’n verskil te kan maak, maar nie noodwendig die nodige geleenthede nie.
“Op Internasionale Vrouedag kry ons weer die geleentheid om te sien hoe vrouens die kanse, wat aan hulle gegee word, neem en gebruik.
“Soos as ons kyk na die verlede toe daar nog baie teen vroue gediskrimineer was.
“Ja, daar is nog baie diskriminasie oral in die wêreld, maar meeste vroue het opgestaan en vir hul regte baklei en dit maak ’n groot verskil.
“My raad aan ander vroue sal wees om bloot net hulself te wees. Moet nie vir enige persoon verander nie, en as jy die geleentheid kry om ’n verskil te maak gryp dit aan en doen alles met ’n passie.”
Marli is tydens die onderhoud ook gevra wie haar rolmodel is.
“My antwoord was natuurlik my ma. Sy is my rolmodel omdat sy ’n vreeslike sterk persoon is wat altyd hard werk. Sy het regtig ’n moederhart.”




