Nigel Damduikers vra hulp vir hawelose
Die plaaslike varswater hengelgroep, die Nigel Damduikers, het op Johan Calitz (52) afgekom terwyl hulle visgevang het langs die Blesbokspruit.
Johan Calitz (52) is ’n hawelose man wat langs die Blesbokspruitrivier in ’n tent woon.
Dit is ook waar lede van die Nigel Damduiker groep hom teëgekom het.
“Ons het besef hy bly hier rond in ’n tent en dat hy haweloos is,” het Dominique Magalhaes, ondervoorsitter van die Damduikers, gesê.
Calitz is doofstom en besit net sy ID dokumente. Hy is glo vroeër beroof van al sy ander persoonlike besittings. Sy grootste wens is om herenig te word met sy familie, maar hy weet nie waar hulle is nie.
Intussen het die Damduikers dit hul missie gemaak om vir hom daagliks kos en vars water te neem. Hulle het ook vir hom visvang gereedskap gegee.
Indien enigiemand weet van ’n hawelose skuiling om sy veiligheid te verseker of inligting het oor sy naasbestandes kan Magalhaes by 062 754 0776 kontak.



