In die kollig – Yolandi Boshoff
Yolandi Boshoff is vir die afgelope twee jaar lid van die Heidelberg Besigheidskamer en was onlangs as president gekies. Sy is ’n prokureur and arbeidskonsultant, getroud met Kobus en het twee kinders, Juané en Kobus (jnr).
Yolandi het in Randburg en Kroonstad grootgeword en woon sedert 1999 in Heidelberg. Heraut het by haar gaan kuier.
Wat behels jou pligte?
Om die vergaderings van die besigheidskamer te lei en saam met die bestuurspan projekte van stapel te stuur en ons sake gemeenskap te bou tot voordeel van ons lede en gemeenskap. Die besigheidskamer se hoof funksie is om lede met mekaar te verbind en die skakel tussen besighede en plaaslike regering te wees juis sodat ons, ons dorp se ekonomiese groei aan die lewe kan hou en sterker maak. Daar lê ’n groot taak vir ons voor in daardie opsig hierdie jaar.
Die organisasie lê jou na aan die hart, wat is so spesiaal daaraan?
Die besigheidskamer bied besigheidseienaars die geleentheid om te netwerk en om mekaar te ondersteun sodat ons met mekaar kan besigheid doen. Dit is ook ’n plek waar ons keer per maand bymekaar kom en net gesellig verkeer. Jy moet nie sonder jou besigheidskaartjies kom nie. Ons het vir hierdie jaar baie projekte in die pyplyn om ons lede die maksimum voordeel te gee vir hul lidmaatskap.
Sou jy ander aanraai om aan te sluit, en hoekom?
Vir seker. Nie net kry jy ’n lekker ete en drankie elke maand nie, maar dis juis dan die geleentheid om jou besigheid, hoe klein of groot, aan Heidelberg te kom bekend stel. Of as jy al jare hier is weer nuwe lewe daarin te blaas. Ons gaan in samewerking met ons media vennote verseker dat almal van jou weet. Ons wil ook graag hande vat met Nigel, Balfour, Ratanda en Duduza en daardie besighede by ons betrek sodat ons hier in ons onmiddellike omgewing ons dorpe bevorder tot voordeel van mekaar en ons inwoners.
Wat doen jy graag in jou vrye tyd?
Ek lees graag en ek het onlangs Tjhoko verf ontdek. So nou verf ek alles. As die hond stilstaan verf ek haar ook.
Waar is jou gunsteling vakansieplek?
Kruger Wildtuin is vir my die heel lekkerste. En plekke waar daar historiese gebeurtenisse plaasgevind het. Ek is mal oor museums en ou dorpies.
Kan jy sonder ’n selfoon leef?
Ja, maklik! Ek los myne gereeld iewers en dan moet almal in die huis help soek.
Wat is die grootste doelwit wat jy graag wil bereik?
Ek wil graag ons besigheid, Labour Connect, tot nuwe hoogtes neem dat mense en besigheidseienaars weet dat ons hul beste vennoot is wanneer dit kom by arbeidsverhoudinge. Ons doen die regte ding vir die regte rede op die regte manier. Ek glo dat die Here my en my vennoot Natasha van Wyk op mekaar se pad gesit het om ’n verskil in ons kliente se lewe en besighede te maak deur Sy lig te kom wees en die Koningryk te bou.
Wat is jou boodskap aan inwoners en besighede?
Ons is sterker wanneer ons saam staan. Kom help ons bou aan ons toekoms hier in ons groter suikerbos area. Ons as inwoners en besighede het die vermoë om ons dorpe beter te maak. En soos die liedjie sê: “Ons sal self”. Ons kán self.



