Hande vol trofeë vir Hoër Volkskool
Die skool is vir uitsonderlike prestasies by die prysuitdeling vereer.
Hoër Volkskool het die een na die ander toekenning ingeryg tydens die Onderwysdepartement van Gauteng se Sedibeng-Oos distrik prysuitdeling vir graad 12, 2020, wat onlangs by die skool plaasgevind het.
Die skoolhoof, Sias Botha, het by die geleentheid die toekennings namens die skool in ontvangs geneem.
“Die trofeë is vir ons soos ’n baken van hoop,” meen Botha.
“Dit wys dat ons as mens steeds kan uitstyg bo moeilike omstandighede. “Ons is ook gemotiveerd om die jaar elke geleentheid aan te gryp en te presteer.”
Hoër Volkskool is tydens die prysuitdeling onder andere as die beste dorpsskool in die distrik vir graad 12 aangewys.
Die skool het ook die meeste onderskeidings per leerder in die distrik opgelewer.
Hulle is tydens die geleentheid ook aangewys as die skool met die meeste leerders wat kwalifiseer vir universiteitstoelating in die distrik, met 81 persent.
Die skool is verder as die beste presterende dorpskool met 99.4 persent in die distrik oor ’n tydperk van drie jaar aangekondig, waarby die skool ook ’n 100 persent slaagsyfer in 2020 opgelewer het.
Dié prestasies het tot die skool se sukses as die algehele top presterende skool in die distrik gelei. Die leerders en personeellede is deur die skool geluk gewens vir die uitstekende resultate wat hulle verower het.
“Ek is trots op die personeel wat so hard gewerk het,” het Botha gesê.
“Veral omdat daar onder moeilike omstandighede steeds goed presteer is.”
Die volgende onderwysers kon ook elk ’n 100 persent slaagsyfer vir die vakke wat hul aanbied agter hul naam aanteken: Gerda Strydom (musiek), Theresa van Schalkwyk (lewensoriëntering), Petro du Plessis (geografie), Helene Deysel (Engels eerste addisionele taal), Salome Calitz (dramatiese kunste) en Francois Rall (rekeningkunde).
“Ek wil ook dankie sê vir die harde werk en lang ure wat deur almal ingesit is gedurende 2020,” het Botha gesê.
“Ons is trots op die klas van 2020 en wil vir julle dankie sê dat julle die mikpunt hoog gestel het vir die Volkies wat agterbly.
“Die matrieks van 2021 het groot skoene om vol te staan, maar met harde werk kan ons dieselfde vermag.”




