Wêreld Dag vir Outisme gevier by Heidelberg Autism Centre
Wêreld Dag vir Outisme bewusmaking gevier by Heidelberg Autism Centre.
Kinders met outisme vind vaardighede soos kommunikasie soms meer uitdagend as ander. Dit beteken ook dat hul die wereld op ’n sensoriese vlak meer intens ervaar as ander. Soms is hulle ook taamlik rigied in hul interaskie.
Alhoewel dit soms moeiliker is vir kinders met outisme om sekere basiese vaardighede aan te leer, is dit nie onmoontlik nie. Die vashou van ’n potlood of ander take wat daagliks uitgevoer moet word, kan dalk aanvanklik moeilik wees om vas te lê, maar met die regte ingrepe kan meeste kinders met outisme wel vorder en ontwikkel.
Uit die aard van hul atipiese ontwikkeling, moet daar soms eers aandag gegee word aan basiese vaardighede voordat daar meer aandag aan formele leer gegee kan word.
Jolanie Roos is aktief betrokke by die werking van die Heidelberg Autism Centre en is ook vanaf 2021 die hoof by hierdie sentrum. Jolanie se 10-jarige seun is met outisme gediagnoseer, daarom verstaan sy elke fasset wat hierdie proses kan inhou vir ouer en kind.
HERAUT het by Jolanie en haar span gaan kuier om hierdie unieke wêreld eerstehands te beleef.
“Elke dag is anders hier. Nie een kind is dieselfde nie en elkeen het werklik ’n unieke persoonlikheid. Ons leer en groei daagliks saam met elke kind,” het Jolanie vertel.
“Outisme is dikwels ’n eensame wêreld, maar ons probeer dit so gemaklik moontlik maak vir elke kind by die sentrum.”
Nicolette Froneman, ’n onderwyseres met ’n sielkunde agtergrond, het gesê: “Soos elke ander kind is ons kinders ook lief vir speel en is hul werklik gelukkig by die skool.
“Kinders met outisme het soms ander behoeftes as ander kinders en daarom het elke kind hier ook ’n assistant.”
Assistente word deur die skool of ouers aangestel. Die assistente help die kinders met take wat dalk vir hul moeiliker kan wees, soms behels dit hulp met skolastiese take soos inkleur en teken, en ander kere is dit toesig tydens speel of sosiale interaksie.
Die Heidelberg Autism Centre het tans 15 kinders waarvan die jongste drie jaar oud is en die oudste 17.

“Sommige van ons ouers verhuis Heidelberg toe juis omdat ons skool uniek funksioneer en omvattend in hul kinders se behoeftes kan voorsien. Ons is geweldig geseënd om toegewyde personeellede en terapeute te hê, en kon tot dusver daarin slaag om ons fooie bekostigbaar en billik te hou,” het Jolanie gesê.
Die skool beskik oor groot speelareas en elke kind het sy of haar eie werkarea.
“Omdat kinders met outisme geweldig sukkel om sensoriese inligting te prosesseer en integreer, kan dit soms vir hulle ’n uitdaging wees om ’n masker te dra, daarom is ons bevoorreg om genoegsame spasie te hê ten einde gemaklik sosiale afstande te handhaaf.
“Die kinders het ook eintlik maklik aangepas binne ons sanitasie protokolle,” het Jolanie gesê.
Die skool beskik ook oor ten volle toegeruste terapielokale waar daar daagliks spraak- en/of arbeidsterapie gedoen word. Hipo-terapie word ook vir die kinders aangebied, alhoewel daar nie perde op die perseel aangehou word nie.
Toe Jolanie gevra is wat die grootste mylpale vir die skool is, het sy entoesiasties vertel dat almal saam juig vir elke nuwe mylpaal wat bereik word. Klein dingetjies word groot rede tot feesviering.
Kinders wat skielik begin woorde sê, in interaksie begin tree of saam met ander kinders begin speel is alles deel van die oorwinnings binne mylpaal ontwikkeling.
“Kinders met outisme is hoogs intelligent en ons word gereeld verbaas. ’n Kind sal byvoorbeeld vir lank nie noodwendig deel neem terwyl ons sing nie, maar dan skielik een middag die liedjie onafhanklik en akkuraat vir mamma sing,” het Nicolette vertel.
Die skool hou jaarliks ’n fondsinsameling projek en Jolanie kan nie genoeg haar dankbaarheid uitspreek teenoor die ondersteuning uit die gemeenskap nie. Omdat kinders met outisme meer aandag en spesifieke ingrepe nodig het van tyd tot tyd is die daaglikse program soms ’n groter finansiële uitdaging.

Wêreld Dag vir Outisme is in 2007 deur die VN aangewys in ’n poging om die stigma en diskriminasie teen diegene met outisme te beëinding. Dit is deel van die VN se agenda vir volhoubare ontwikkeling, wat belowe dat niemand agterbly nie.
Vir meer inligting oor die fondsinsamelingsprojek in November, kan Nellie Schilt by 082 9788 334 of Vedette Bezuidenhout by 083 417 5717 geskakel word.
Vir navrae oor die skool kan Jolanie Roos by 082 566 7030 geskakel word.



