Local newsNews

Nigel Tuiste vir Bejaardes dankbaar vir skenkings

Die Nigel Tuiste vir Bejaardes bedank gemeenskap vir hulp.

Die Nigel Tuiste vir Bejaardes het hul dank teenoor die gemeenskap uitgespreek vir die ruim skenkings wat hul in 2020 ontvang het.

Die afgelope jaar was vir elkeen finansieel en emosioneel een van die moeilikste jare, maar met bystand vanaf die gemeenskap en kerke kon die tuiste inwoners steeds goed versorg en bederf, selfs gedurende die grendeltydperk.

Skenkings van doeke, toiletware, geskenkpakkies en nuwe beddegoed en gordyne is ontvang. Selfs lede van die publiek het voor Kersdag opgedaag en vir elke inwoner iets lekkers te ete gebring.

“Dit is die klein dingetjies wat vir ons inwoners soveel beteken,” het Christa Spekking, administratiewe assistant, gesê. Die lidmate en kinders van ’n plaaslike kerk het blikke wat hulle self versier het gevul met eetgoed en toiletware afgelewer.

“Van ons inwoners het geen familie nie en al het ons die besoeke van kerke en skole gemis, het die geskenke hulle steeds geliefd laat voel,” het Christa bygevoeg.

In 2021 wil die tuiste hul aansig binne en buite verbeter. Die Departement van Sosiale Ontwikkeling het die tuiste ’n ruim skenking aangebied om die versorgingseenheid se dak te herstel en te verf wat hul dan in staat sal stel om hul binnekant mooi reg te maak en te verf.

Die tuiste ontvang ook ’n nuwe voertuig omdat een van hul motors in ’n ongeluk afgeskryf was.

“Ons waardeer elke skenking, hoe klein of hoe groot, opreg en is baie dankbaar teenoor die Nigel en Heidelberg gemeenskap vir al hulle hulp,” het Christa afgesluit.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button