Leer ons mense ken – Bets Grobler
Bets Grobler is vir die afgelope 27 jaar lid van VLU Rensburg-tak en was vir die afgelope drie jaar voorsitter.
Sy en haar man Dirk is vir 39 jaar getroud, het een kind en twee kleindogters. Bets het tydens die VLU Rensburg-tak se 48ste verjaarsdag in Maart as voorsitter uitgetree en beplan om vir ‘n jaar ‘n breek te vat. Heraut het by die merkwaardige vrou gaan inloer.
Hoe lank is jy al ‘n lid van die VLU?
Al 27 jaar.
Hoe lank was jy al die voorsitter van die tak en wat het hou pligte behels?
Ek was vir die afgelope drie jaar voorsitter van Rensburg VLU. Ek vat nou ‘n jaar vakansie om so bietjie batterye te herlaai en gesondheid te verbeter. My pligte behels om dames positiief te hou en om dames aan te spoor om ‘n verskil te maak in mekaar se lewe. VLU is daar om mekaar te verryk en uit te reik na ander.
Die organisasie lê jou na aan die hart, wat is so spesiaal daaraan?
Die organisasie gee jou ‘n geleentheid om bo jouself uit te styg en terselftertyd na ander uit te reik. Dit gee jou daardie balans tussen jou alledaagse pligte en om te ontspan. Met die VLU kry ek die geleentheid om meer vaardighede aan te leer.
Wat doen jy graag in jou vrye tyd?
Ek speel graag rolbal.
Waar is jou gunsteling vakansie plek?
Die wildtuin.
Kan jy sonder ‘n selfoon leef?
Ek glo ek sal kan, met die swak sein hier is ek maar gereeld ‘sonder’ ‘n foon.
Verkies jy dit om uit te eet of liewer self kos te maak?
Die etery is ‘n teer punt. Ek sal geniet om so nou en dan uit te eet. Het ek ‘n keuse anders as om self kos te maak?
Watter gereg kan jy toe oë maak sonder dat dit “flop”?
Macaroni en kaas is my ‘signature dish’.
Het jy nog enige doelwitte wat jy graag wil bereik?
My grootste doelwit in die lewe is om ‘n anonieme verskil in mense se lewens te maak.
Wat beplan jy vir die volgende jaar terwyl jy verlof vat?
Ek gaan die jaar gebruik om dieper as net my gesig te delf. Die ware ‘ek’ speel deesdae lekker wegkruipertjie! Dan wil ek ook graag by ander takke gaan loer hoe hulle binne VLU funksioneer. Dalk leer ek iets wat ek met my kan saamvat. Ek wil meer tyd aan my huis en tuin spandeer. Ek wil begin om dit wat ek geleer het rondom my te beoefen. Ek wil alles om my mooi maak en dit my lewe noem.
Wat was werklik vir jou ‘n merkwaardige gebeurtenis tydens jou voorsitterskap?
Om na elke vergadering die terugvoer van lede en gaste te kry. Sodoende leer ons wat ware vroue is. Soms raak ons maar die pad byster weens die druk van buite. Wys my ‘n vrou wat ophou leer!
Wat is jou boodskap aan die nuwe voorsitter?
Moet nie bang wees nie. Vat elke hand wat na jou uitgesteek word, vas. Niemand weet wat die toekoms inhou nie. Onthou takke kan nie sonder ‘n stam wees nie. Wees jy daardie stam. Daar gaan dae kom wat jy voel jy het nou jou tande deur gebyt, vrou verf jou toonnaels rooi en gaan leen iemand se valstande!
Hoekom dink jy moet dames aansluit by die VLU?
Ek glo elke dame wens daar kon meer van die jong geslag by ons aansluit. Dit verryk die vrou. Dit voed haar op om, in die huidige omstandighede, nogsteeds vrou te bly. Dit leer haar om haarself te bemagtig deur nuwe tegnieke aan te leer. Dit daag haar uit om ‘n sprong te maak wat sy andersins nooit sou maak nie. VLU gaan nie net oor tee drink en koekies eet nie. Dit leer jou om self daardie ‘koekies’ te bak en tee te skink. Dit leer jou om ‘n lafenis vir ander te wees.
Wat dink jy maak ‘n goeie leier?
Om te weet wat om jou aangaan. Sy wat weet hoe om op ‘n sagte, dog ferm manier die dames aan te spoor om uit te ryk na mekaar en na die buitewêreld. Ja, elke leier doen meestal die praatwerk maar jy moet ook kan luister. As jou planne opraak, gaan google nuwes! Onthou, jy bly ‘n mens. Jy het ook gevoelens. Kyk na jouself ook.



