Nicolaas Smith is vir ongeveer 10 jaar lid van die Heigel Fotoklub en vir die afgelope twee jaar die voorsitter. Hy en sy vrou, Annatjie, is 12 jaar getroud en woon sedert hul troue in Nigel. Daar is drie seuns en een dogter wat deel van hul familie vorm. Heraut het gaan aanklop by Nico om te gesels oor sy passie vir fotografie.
Hoe lank neem jy al foto’s?
Ongeveer 20 jaar. Ek het aanvanklik foto’s geneem as verwysings vir skilder. My belangstelling in fotografie het mettertyd die oorhand gekry. Deesdae konsentreer ek op fotografie.
Watter doelwitte het jy vir die fotoklub?
Om meer jong fotograwe betrokke te kry, sowel as die bevordering van selfoonfotografie. Die gehalte van selfoonkameras verbeter daagliks en dien as ’n gebruikskamera vir die oorgrote meerderheid van die bevolking.
Hoe inspireer die fotoklub die lede?
Verskeie maniere. Ons het maandeliks ’n klubkompetisie waartydens lede elk tot vier fotos kan inskryf. Hieruit word dan drie wenfoto’s gekies: die algehele wenner, die beste junior fotograaf foto en dan die beste voorgeskrewe onderwerp foto.
Aan die einde van elke fotografiejaar (gewoonlik Oktober) kies ons die fotograaf van die jaar gebasseer op verskeie prestasies wat elke fotograaf bereik het. Dan het ons ook ’n bevorderingstelsel. Elke fotograaf begin by die klub as ’n een-ster fotograaf. Hiervandaan, gebasseer op die toekennings wat met klub kompetisies behaal word, word die fotograwe bevorder.
Hoe word foto’s beoordeel by die klub?
Tydens ons maandelikse klub byeenkomste word die ingeskrewe foto’s om die beurt op ’n skerm vertoon. Op hierdie stadium is die outeur van die foto onbekend. ’n Paneel van drie beoordelaars ken dan elk ’n punt uit 15 toe aan die foto.
Hiedie tellings word bymekaar getel ten einde ’n finale telling uit 45 te bekom. Na aanleiding van die fotograaf se ster-gradering, ontvang die foto dan ’n COM-, goud, silwer of brons-toekenning. Die naam van die outeurs wie se foto’s goud of COM toekennings ontvang, word dan aangekondig.
Wat is die inspirasie agter jou eie fotografie?
Ek spandeer baie tyd om na ander fotograwe se werk te kyk, veral internasionale fotograwe. Die talent onder fotograwe (plaaslik en internasionaal) is indrukwekkend. Dit dien as inspirasie vir my om te poog om foto’s van dieselfde gehalte te lewer.
Watter tipe foto’s hou jy meeste van om te neem?
Straatfotografie en landskappe. Straatfotografie is uitdagend, want geen redigering van die foto’s word toegelaat nie. Mens moet waaksaam wees, want ’n fotogeleentheid kan op enige oomblik voorkom en die tyd wat die fotograaf het om dit vas te vang duur gewoonlik slegs ’n paar sekondes.
Wat is die mooiste foto wat jy al ooit geneem het?
’n Landskapfoto. Ek het een oggend vanaf Nigel na Delmas gery. Dit was mistig. Langs die pad was ’n geroeste plaasskuur met ’n boontjieland op die voorgrond. Die boontjies se blare het reeds begin vergeel. Ek het gestop en die stoor met boontjies gefotografeer. Die eindproduk is steeds een van my gunstelinge.
Wie is jou rolmodel as fotograaf?
Ansel Adams is my gunsteling pionier fotograaf. Dan is een van my gunsteling hedendaagse fotograwe Chris Sale van die Lake District in Brittanje.
Het jy ander stokperdjies?
Ons het baie jare motorfiets gery en het dit terdeë geniet. Ek en Annatjie was egter ’n paar jaar gelede in ’n ongeluk betrokke. Van toe af het sy geen begeerte vir motorfiets ry nie en het ons dus opgehou daarmee. Tans kampeer ons gereeld met ons karavaan en ons reis baie.
As jy oor enige gebeurtenis sou kon foto’s neem, wat sou dit wees?
As kind het ek gereeld skoolvakansies by my grootouers op hul plaas in die Steelpoort-distrik gekuier. As ek terug dink aan die ou plaashuis en klipkraal, onder andere, sou dit uitstekende foto’s gemaak het.
Hoe sal jy jou lewe in ’n foto vasvang?
Een van die algemene foute wat nuwe fotograwe begaan, is om ’n te “besige” foto te neem. Dit beteken hul het net eenvoudig te veel onderwerpe vasgevang op een foto waarvan geen een as ’n definitiewe fokuspunt dien nie. My lewe sal ’n besige foto lewer.
Sal jy mense aanraai om fotografie as stokperdjie te beoefen en by die Heigel Fotoklub aan te sluit? Hoekom?
Ja, vir seker. Fotografie laat mens die omgewing rondom jou met nuwe oë waarneem. Elke rit wat jy onderneem word ’n potensiële fotografiegeleentheid. Klubfotografie (soos by Heigel Fotoklub) leer mens die tegniese vaardighede van fotografie en mens deel ’n belangstelling met ander mense.



