Local newsNews

‘Nooit te oud om pop te speel nie’

Mitzi Heunes (61) en haar man, Aubrey, het vier maande gelede vanaf Nelspruit na Heidelberg verhuis.

As ’n gekwalifiseerde maatskaplike werker het sy by nature ’n sagte hart vir mense, veral vir dogtertjies wat pop speel.

Mitzi het in haar vrye tyd vir 30 jaar matriekafskeid- en trourokke gemaak, maar haar passie was altyd by haar stokperdjie: die ontwerp en maak van popklere. Vir die afgelope sewe jaar is dit wat sy voltyds doen.

“My ma het ons geleer hoe om naaldwerk te doen en van kleins af het ek ’n liefde gehad om iets te skep uit niks,” het Mitzi vertel.

Van die klere wat Mitzi Heunes self ontwerp en maak vir poppe.

Mitzi se stokperdjie het ontwikkel in ’n internasionale besigheid en haar ontwerpers popklere word uitgevoer na verskeie lande, onder andere Rusland.

“Daar is baie poppe in die winkels, maar jy kry nie altyd klere vir die poppe nadat jy die pop gekoop het nie. Elke popvervaardiger se poppe het ander gesiggies, maar die grootte van die poppe is dieselfde, wat dit maklik maak om my popklere te bemark,” het Mitzi vertel.

Die seuntjie pop met seunsklere en skoene. Mitzi is gesteld op die fynste besonderhede van kledingstukke en selfs die hempsknopies en broek se nate is soos regte mansklere ontwerp.

Sy glo popspeel is terapeuties en het vertel van ’n seuntjie met leerprobleme wat saam met sy ouma na haar winkel toe gekom het en genoem het dat hy ook, soos sy sussie, graag ’n popmaatjie wou hê. Sy ouma het vir hom ’n seuntjie pop gekoop en Mitzi het van jagklere tot superhero-klere gemaak. Die seuntjie se skoolwerk het begin verbeter vandat hy ’n maatjie het wat oral saam met hom kon gaan.

Mitzi se doel is om kinders te leer om weg te kom van elektroniese toestelle en weer te speel in die verbeeldingswêreld.

“As ek een kind kan kry om ’n tablet te los en met ’n pop te speel, sal dit my gelukkig maak,” het sy gesê.

Van die klere wat Mitzi Heunes self ontwerp en gemaak het en uitstal by haar winkel in Jordaanpark.

Mitzi maak voorsiening vir elke begroting en die poppe se uitrustings wissel van bekostigbare tot spesiale ontwerpersrokke. Selfs matriekmeisies het al gekom met hul poppe en Mitzi moes ’n matriekafskeiduitrusting maak vir die meisie en dieselfde rok vir die pop.

Sy het vertel van ’n meisie van 14 wat ’n liefde vir fotografie het en ’n paar poppe besit wat sy in Mitzi se uitrustings aantrek en fotosessies met hulle doen.

Mitzi Heunes se handgemaakte pop wat sy opgetooi het met ‘n ontwerpersuitrusting wat sy self gemaak het.

Mitzi, wat haar eie pop op 51 gekry het, glo mens is nooit te oud om pop te speel nie. Om kinders te motiveer om weer die verbeeldingswêreld te betree, doen sy tema uitstallings. Temas soos “sleepovers” waar poppe nagklere aan het, slaapmaskers, springmielies en selfs popgrootte DVD’s. Dogtertjies bring hulle poppe en kuier saam met Mitzi se poppe en geniet saam vars springmielies, lekkers en Milo.

Mitzi sien uit om die Heidelberg gemeenskap te leer ken en nooi alle dogtertjies en hul mammas uit om by haar winkel in Jordaanpark te kom kuier.

Kontak Mitzi by 079 296 2141 vir ’n afspraak of meer inligting.

Enige dogtertjie se droom met popklere en bykomstighede te kies en te keur handgemaak deur Mitzi Heunes.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button