Leer ons mense ken – Judith Kea
Judith Kea (36) is een van Heidelberg se bekendste sangtalente. Sy was gelukkig om die platteland en stadslewe te ken as kind en het haar hoërskool loopbaan in Alberton voltooi.
Judith Kea (36) is een van Heidelberg se bekendste sangtalente. Sy was gelukkig om die platteland en stadslewe te ken as kind en het haar hoërskool loopbaan in Alberton voltooi.
Sy en Joelene Lindner wat al 15 jaar saam is, vier die jaar hul 10de huweliksherdenking en bly vir die afgelope nege jaar in Heidelberg. HERAUT het by Judith gaan inloer om die besondere kunstenaar beter te leer ken.
Hoe het jou liefde vir sing ontstaan?
My liefde vir sing was onvermydelik oplettend nog voor ek kon praat. Ek het dag in en dag uit loop en sing en my eie liedjies opgemaak en geskryf. Na skool sou ek huis toe hardloop en heel middag met my pa se groot hi-fi sit en radio-radio speel.
Ek was die radio omroeper en my maatjies die mense met wie ek die onderhoude mee gevoer het. Die familie was ook gereeld genooi om te kom sit sodat ek vir hul konsert kon hou.
Hoe oud was jy toe jy die eerste keer opgetree het?
Ek het van jongs opgetree waar ek ookal ’n mikrofoon in die hande kon kry. Ek was 15 jaar oud toe ek vir die eerste keer betaling vir my optrede ontvang het.
Watse genre musiek is jou gunsteling?
Ek het nog altyd ’n liefde vir country, maar dit is die rock ‘n’ rollers van die ’80s wat my hart besit.
Wat was tot dusver jou beste vertoning?
Dit is moeilik om een te kies, want elkeen is so spesiaal in sy eie reg. Van die mense wat ek ontmoet en verhoë mee deel tot die avontuur op pad na die vertonings. Hoe kies mens tussen die lekker gees van Afrikaanse kunstnaars tot die klein dorpie in die vlaktes wat fees hou saam die sout-van-die-aarde mense wat so lekker dans terwyl ek sing.
As ek moet een kies wat vir my uitstaan omdat alles net mooi en reg en in plek geval het op die verhoog en so ook af van die verhoog sal ek sê die laaste DOME Rally in Parys was vir my die een waarna my hart terug verlang.
Waar sal jy graag wil optree?
Ek sal graag wil optree by Poison Rally in Kroonstad wat jaarliks duisende motorfiets-entoesiaste van alle kante laat saam brom, Surgis Rally wat een van die grootste saametrekke vir motorfietsryers is in Amerika en nou ook hier in Suid-Afrika en dan ook natuurlik die Buffalo Rally in Hartenbos en Die Africa Bike Week in die Kaap.
Watse doelwitte wil jy bereik?
My hoop en doelwit is om genoeg kontant in te samel om ’n lisensie te koop vir Bikerhart Radio waar ek Donderdae tussen 6nm en 8nm my eie program, Voedsel vir die siel, uitsaai en om die TV produksie ’n realiteit te maak.
Wie is jou rolmodel?
Ek het so baie: dis die persoon wat nie opgee nie, die tannie wat haar hande stomp af werk vir die kerk, die oom wat elke oggend opstaan en hoop bring vir sy mense, die vrou wie se lyf in spasma trek as gevolg van siekte maar steeds elke dag opstaan, glimlag en probeer om haar eie bestaan te maak en die leeraar wat vir ure huisbesoeke doen om mense te help. Dis die alledaagse mense wat my rolmodelle is. Elkeen uniek en waardig op hul eie manier, maak nie saak die kleur van hul vel, ouderdom of status nie.
Wat doen jy in jou vrye tyd?
Ek is ’n selfstandige kunstenaar en dit maak vrye tyd so skaars soos hoendertande, maar ek en Joelene maak ’n punt daarvan om gereeld op die rug van ons 2008 Honda VTX 1300 ysterperd rond te rits.
Wat is jou gunsteling kos?
Ek eet graag avo, kaas, rou spinasie, roomkaas en gedroogte tamaties. So eintlik kan jy enige van dié op my bord sit en dit sal ‘n ‘hit’ wees.
Waar hou jy graag vakansie?
Die Kaap het my hart gesteel en ek sal soveel as moontlik daar wil gaan rus.
Wat weet die gemeenskap nie van jou nie?
Ek dra ’n groot liefde vir ons dorp en die mense van ons dorp in my hart.
Hoe dink jy sal jou vriende jou beskryf in drie woorde?
Wys, nederig en lojaal.
As jy ’n boek sou kon skryf oor jou lewe tot dusver, wat sou die titel wees?
Op die Pad na U.
Wat is jou boodskap aan jongmense wat ’n beroep in sang of radio oorweeg?
Ken die Here bo alles en die res sal in plek val. Skryf jou droom neer en doen ondersoek hoe jy jou droom kan realiseer. Passie is belangriker as talent. Vervyn jou talente en ken jouself. Staan vas in dit wat jy glo. Vra vrae, wees opreg. Almal maak foute, so wanneer jy ’n fout maak, staan op, skud jouself af en begin weer. Ken jou waarde. Wees jouself, want niemand kan so goed jy wees soos jyself nie.



