Local newsNews

Derde diagnose vir ystervrou

Melissa Daniels was vir die derde maal gediagnoseer met kanker in November 2021.

Melissa Daniels (30) is onlangs vir die derde keer met kanker gediagnoseer en alhoewel dokters gesê het dat sy net ‘n moontlike vyf jaar nog kan leef, meen Daniels en haar familie dat daar altyd hoop is.

Die HERAUT het met die ystervrou gaan gesels om meer oor haar storie te wete te kom.

“Ek was vir die eerste keer in 2016 met fase drie kolonkanker gediagnoseer toe ek 24 jaar oud was,” het Daniels vertel.

“Kort hierna was ek in vir ‘n operasie om my kolon te verwyder.

“Die dokters het gesê dat hulle ook kanker in my rektum opgetel het, wat beteken dat hulle dit ook tydens die operasie moes verwyder. Hulle het my dunderm omskep in ‘n sakkie om my kolon en rektum te vervang,” het sy verduidelik.

“Alles het volgens die dokters goed afgeloop en kort daarna het ek met met chemoterapie begin.”

Volgens Daniels het sy vir ses maande in die intensiewe eenheid beland vanweë verskeie probleme wat begin opduik het.

“n Lang rits komplikasies, wat ook sepsis ingesluit het, het gevolg en ek het letterlik en figuurlik by die dood omgedraai.

“Die dokters het my ma nog op my seun se verjaarsdag gebel om te sê dat sy my moet kom groet.”

Daniels se seun, Jayden, word in April nege.

Nadat haar toestand verbeter het, het sy rehabilitasie ondergaan en moes sy onder andere hulp ontvang om weer te kon loop.

Tog, met haar uiteindelike tuiskoms, was Daniels se probleme nog nie iets van die verlede nie.

“Ek het net nie beter geword nie en die newe effekte van die chemoterapie het ‘n groot impak op my liggaam gehad. Ek kon nie sien hoe ek ‘n normale lewe sou kon lei nie,” het sy gemeen.

“Die medisyne het absoluut niks gehelp nie. Na besoeke aan verskeie dokters is ek weer vir ‘n week in ‘n hospital opgeneem.”

Na haar ontslag uit die hospitaal het sy begin beter voel maar steeds was dit nie die einde van haar stryd nie.

In 2018 het Daniels se probleme weer begin opduik. Bloeding het gemaak dat sy weer vir toetse gegaan het.
Na verskeie toetse, wat aangedui het dat daar niks fout was met haar nie, is sy verwys na ‘n dokter in Johannesburg.

Dié het opgelet dat die kanker terug was, oftewel nooit haar liggaam verlaat het nie.

Daniels meen dat die kanker dié keer te verspreid was vir dokters om dadelik te kon opereer, en sy moes weer met chemoterapie begin.

“Ek onthou een aand, nadat ek weer begin het met die chemoterapie, het ek buite gaan sit in ‘n tuin area buite die hospitaal, drip en al,” sê Daniels.

“En ek het met die Here baklei. Ek kon nie verstaan hoekom ek weer deur dit moes gaan nie; ek het tog sovêr moontlik my lewe probeer reg leef.

“En dit was asof Hy my geantwoord het: hoekom nie jy nie. Dit het my perspektief verander.”

Tydens die volgende ses maande het die kanker danksy die chemoterapie met 50% gekrimp.
Dokters het gereken dat die kanker moontlik in remissie kon ingaan, en het ‘n verdere drie maande gewag voor hulle uiteindelik geopereer het.

“Na die operasie was ek terug op chemoterapie,” sê sy.

In April van 2020 was sy in remissie, maar het steeds vir gereelde toetse gegaan.

Voordat sy in November 2021 gegaan het vir toetse, het sy begin snaaks voel en gedink dit is net verkoue.

“As ek dit moet beskryf sal ek sê dat dit gevoel het asof ek deur ‘n pen asem gehaal het,” sê Daniels.
“Ek het tydens my opvolgtoetse vir die dokter hiervan vertel en na verdere ondersoek is kanker aan my longe en ook op my lewer ontdek.

“My eerste gedagte was, hier gaan ons al weer,” het sy gesê.

Omrede sy tydens haar tweede diagnose sterk chemoterapie ontvang het, het dokters vir haar gesê dat haar lyf nie weer so sterk dosis sal kan hanteer nie.

Sy is egter nou op ‘n flou kursusterapie met aanvullende medikasie.

Melissa Daniels was na haar eerste operasie vir ses maande in die intensiewe sorgeenheid.

“My kind, my familie en my geloof hou my positief. Romeine 8:28 val my elke keer by as ek begin negatief raak of dit nodig het.

“Ek het ook ‘n reël, een slegte dag beteken twee goeie dae daarna. Ek moet positief bly want ek kan nie bekostig om kanker en my eie brein te veg nie.”

Dié medikasie word nie deur haar mediese fonds gedek en beloop sowat R36 000 per behandeling.

Met verskeie fondsinsamelings projekte, soos Back-a-Buddy en ‘n fondsinsameling-projek genaamd Raise the bar for Melissa, asook die hulp van ‘n anonieme donasie, kon Daniels vir die eerste behandeling betaal.

‘n Nuwe projek genaamd Klou aan die lewe soos ‘n Magneet, is ook onlangs van stapel getsuur om vir Daniels by te staan.

Die projek kan ondersteun word deur ‘n magnetiese kanhouer vir R50 te koop.

“Enige iets meer as wat nodig is, wil ek skenk aan iemand anders wat dit meer nodig het as ek,” sê sy.

“Ek is baie geseënd met my ondersteuningsnetwerk,” het Daniels ter afsluiting gesê.

“Ek kan nie genoeg dankie sê vir my familie, vriende en werksmense wat op tye uit hulle pad gaan om my te ondersteun.”

Indien daar persone is wat vir Daniels wil bystaan, kan hulle vir Anneke Pretorius by 083 414 4974 kontak vir meer inligting of vir Daniels by 083 257 3620.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button