Leer ons mense ken: Dawie de Villiers
“Heidelberg is na aan my hart,” sê de Villiers.
Dawie de Villiers (45) is ‘n bekende gesig in Heidelberg waar hy onder andere baie betrokke is by die Voortrekkers. Hy is al vir byna 18 jaar getroud met Charlene. Saam het hulle drie kinders, Jean, Anke en ‘n laatlam Ludwig. Die gesin woon tans in Jordaanpark.
Hoe lank woon jy al in Heidelberg?
Ek is gebore in Heidelberg en sal seker doodgaan in Heidelberg. Die eerste paar jaar van my lewe het ek in die Hoër Volkskool koshuis gebly waar my pa onderwyser asook koskuisvader was. Later het ek in Rensburg groot geword en my laerskool loopbaan te AG Visser voltooi en hoërskool te Hoër Volkskool klaar gemaak. Heidelberg is een van mooiste dorpe in ons land. Ek is baie lief vir die dorp en sy mense.
Hoe lank is jy al betrokke by die Voortrekkers?
Sovêr is dit 13 jaar. Vyf jaar as skolier en agt jaar as offisier.
Hoekom het jy besluit om daar aan te sluit?
Ek wou vir my kinders die geleenthede gee wat ek as kind gehad het.
Wat sal jy sê is die kern van die Voortrekkers?
Die Voortrekkers is ‘n Christelike organisasie wat ‘n verskil maak in kinders asook grootmense se lewens, deur geleenthede te skep om meer van die natuur, ons geskiedenis, ons land, jouself en paraatheid te leer.
Duidelik lê die Voortrekkers naby aan jou hart, hoekom is dit vir jou so spesiaal?
Die verskil en groei wat ek kan sien in die kinders en offisiere wat deel is van die Voortrekkers hou my gemotiveerd. Die geleenthede wat die kinders in die Voortrekkers kry is iets wat die kinders en grootmense as persone laat groei.
As jy nie besig is by die Voortrekkers, wat doen jy graag in jou vryetyd?
Ek hou van lees, voëlkyk, foto’s neem, op staproetes gaan en rond toer. Dit gee my geleenthede om by mooi plekke te kom waar ek rustig kan raak in die natuur. Ek kry my energie uit die natuur. Ek is ook betrokke by Jordaanpark Forum en ons parkie. Ek het die Silver Oaks parkrun help begin en is ‘n vrywilliger as ek tyd het. Verder is ek is ook betrokke by die jeug van die Klipkerk. As my gesondheid dit toelaat probeer ek ook driekamp doen tussen in al gaan dit maar swaar.
Waar hou jy graag vakansie?
Die Drakensberge.
Wat is jou gunsteling kos?
Sonder twyfel is dit skaaptjops.
As jy nog enige iets kan doen in jou leeftyd, wat sal dit wees?
Ek wil graag gaan voëls gaan kyk by Antarktika en eilande daar rondom verken.
Wat is jou leuse in die lewe wat jy aan ander wil oordra?
Maak ‘n verskil in ander se lewens.



