AfriForum Heidelberg se slaggatprojek het weer op 27 April hervat na dit vir twee weke nie kon voortgaan weens weersomstandighede nie.
Die projek is oorspronklik in Maart begin om die slaggatprobleem in die dorp aan te spreek.
“Ons het tot op datum nege werksdae voltooi,” het Willem Sprong van AfriForum Heidelberg op Facebook gesê.
“Daar is 78 slaggate tot dusvêr reggemaak en 132 sakkies teer is gebruik, en baie glimlaggende bestuurders is ook gegroet.
“Meeste groeipyne is nou uit die weg geruim en ons is gereed om die projek na nuwe hoogtes te neem.”
Diegene wat in die projek belangstel, kan ’n skakel op AfriForum Heidelberg se Facebook-blad volg om hul belangstelling aan te dui.

“Ons span sal dan uitkom en vir u ’n aanduiding gee van die hoeveelheid dae wat nodig sal wees om die slaggate in u straat reg te maak,” het Sprong gesê.
Sprong meen dat die projek se uitgawes ongeveer R1 800 per dag beloop.
“Sodra die fondse dan in die straat ingesamel is, kan ons die manne met die wa stuur,” het Sprong gesê.
As daar enige besighede is wat ook by die projek betrokke wil raak, kan ’n e-pos gestuur word na heidelberg@afriforumtak.co.za



