Wenners van Administrateurbeker hou reunie
Volksool se 1975 Krieketspan na 47 jaar weer bymekaar.

Hoër Volkskool se 1975 eerste krieketspan het onlangs ‘n reünie gehad vir die span wat die Administrateursbeker 47 jaar gelede gewen het.
Die eerste krieketspan het in 1975 in die semi-finale met Potch Volkskool afgereken.
Dit was die eerste keer in 28 jaar wat dit vermag kon word en in die finaal is daar met Standerton afgereken om die beker te kon wen.
Die span het bestaan uit: Danie Nolte, Japie Becker, George van der Merwe, Dirk Opperman, Arie Penning, Ockert Jordaan, Sybrand van Niekerk, Gerhard Schutte, Mike du Toit (kaptein), Theo Strydom (onder-kaptein), Hannes Spies en Reino Retief.

Volkskool het in die seisoen voor die liga begin het twee keer teen Standerton gespeel en albei daardie wedstryde verloor.
Wat die reünie merkwaardig maak is dat al die spelers asook die afrigter Bennie Venter die reünie bygewoon het.
Die span se spelers is wyd versprei.

Nog net twee spelers is woonagtig in Heidelberg, verder woon hulle in Pretoria, Witbank, Johannesburg, Rustenburg, Wes Kaap en Quatar.
Hannes Spies, een van die spelers van die span en wat in 1978 hoofseun van die skool was, het gesê: “Ons het soos ‘n familie geword en het vir mekaar gespeel.

“Dit is net met genade van bo dat ons almal nog hier kan wees en die geleentheid saam kon geniet,” het Spies gesê.
In die 1975 span was daar drie toekomstige hoofseuns gewees wat almal saam gespeel het, Arie Penning (1976), Reino Retief (1977) en Hannes Spies (1978).

Toe die 1975 krieketspan die beker verower het was dit die 12de keer wat die beker toe al deur Volkskool se krieketspanne ingepalm is.
