Balle rol by Heidelberg rolbalklub
Die verskeie wenners van die kategorieë sal op 'n latere stadium by 'n volgende klub verder speel.
Die Perfect Delivery Gauteng-Ope Rolbalkampioenskappe is tans ‘n deurlopende kompetisie wat by rolbalklubs regoor Gauteng aangebied word.
Die Heidelberg Rolbalklub was onder andere een van die klubs wat gekies is om gasheer te wees vir een van die verskeie kategorieë in die kompetisie.

Die kategorie mans pare en vroue pare is by die klub aangebied.
“Dit is ‘n pluimpie vir Heidelberg dat ons deur Ekurhuleni Rolbal gekies is vir ons vriendelike en effektiewe organiseering, asook ons bane wat in goeie toestand is,” sê George Clarke van die klub.

Tydens die afgelope naweek (9 en 10 Julie) is die kategorie vroue pare by die klub uitgespeel.
Altesaam 48 spelers het deelgeneem en twee uitdun rondtes is gespeel.

Die wenners van die twee uitdunne in die kategorie was Bedfordview Rolbalklub se Tracy Herrington en Michelle Ashburner, asook Alberton Rolbalklub se Sheila Smith en Beata Coetzer.

Die kategorie mans pare is reeds op 2 Julie by die klub gespeel, waarvan die wenners Cecil Behrens en Ferguson Wade van Kempton Park was.
Die wenners van die uitdun rondtes sal op ‘n latere stadium by ‘n volgende klub verder speel.




