VLU vroue leer oor edelstene
Argeoloog, Peter Nel het die vroue 'n verskeidenheid edelstene gewys en meer daaroor vertel.
Lede van die VLU Nigel-tak het op 12 Augustus vir hul maandelikse vergadering bymekaar gekom.
Susan Valentin het die vroue meer oor die tak se bome van die jaar, naamlik die Pompon Boom en die Huilboom vertel.
Gasvrou Elsa Greyling het die leisels geneem met die onderwerp omgewingsbewustheid en vir argeoloog, Peter Nel gevra om die vroue meer oor edelstene te vertel.
“As ek kan, sal ek elkeen aanraai om meer oor stene en minerale te leer,” het Peter gesê.
“’n Mens leer soveel oor die wêreld. Daardie stene vertel ‘n storie en hoe meer jy leer, hoe verder kan jy teruggaan in tyd.”

Nel het die vroue meer vertel oor die verskeidenheid edelstene wat gewissel het van diamante, saffier en robyn na kwartse.
Hy het ook vir die vroue, met behulp van ‘n klein ongesnyde lae-graad diamant gewys hoe om ‘n diamant uit te ken met behulp van ‘n ultra violet lig.
Na afloop van die vergadering het die vroue ‘n gesellige ete geniet.
Die tak se volgende vergadering sal op 8 September plaasvind.
Vir meer inligting, of om aan te sluit, kontak Anna-Marie Axer by 082 886 2002.



