Vroue in besigheid in die kollig
Die 'Empowered Women @Work' geleentheid het gesorg vir hope pret.
Style Challenge International het op 20 Augustus ‘n besigheidsvrouedag, Empowered Women @ Work, by die Hoër Volkskool gehou.
“Dit was ‘n groot klomp pret,” het Sandra Taljaard van Style Challenge International vertel.
“Besigheidsvroue van Mpumalanga, Gauteng en Heidelberg het die geleentheid bygewoon. Ons het alle aspekte van besigheid aangeraak, soos besigheidsetiket en informele asook formele besigheidsklere.
”Tydens die geleentheid kon die sakevroue netwerk, ’n smaaklike ete geniet wat voorberei was deur Hoër Volkskool se hotelskool, en die bekende tenoor Coert Grobbelaar en sy begeleier Rudolf Geldenhui se musiek geniet.

“Coert het ook as seremoniemeester opgetree en ek moet sê ons het onsself gate uit geniet,” het Taljaard gesê.
Daar was ook modeparades met die klere van Edgars en Mengelmoeskardoes Heidelberg gehou om vir die vroue uit te beeld wat die verskil is tussen ‘casual business and business casual attire’.
“Jy weet, mode kan soms vervelig raak. Ek hou daarvan as mense in die gehoor vrae vra en saamgesels oor dit waarmee ek besig is. Dit maak dit meer interessant en almal geniet hulself meer.
”Aan die einde van die geleentheid het Style Challenge International ook vir Geraldene Janck (70) ‘n oormaak-sessie gegee. Janck was deur Marty Jerling van die Rensburg VLU genomineer en het die mooimaak bederf baie geniet.“

“Ek wou nog altyd soos ‘n prinses gevoel het,” het Janck vir Taljaard gesê.
“Ek wil graag almal bedank wat die dag bygewoon het en dit saam met ons geniet het,” het Taljaard gesê.
“Dit was regtig lekker om saam met die groep pragtige sakevroue te kuier en ook Vrouemaand so te vier. Hoër Volkskool Hotelskool het die kos voorberei en dit was uitmuntend.
“Daar was ’n groot span persone, besighede en borge wat bygedra het om van die dag ‘n sukses te maak. One bedank hulle almal hartlik,” het Taljaard mee afgesluit.
Persone wat met Taljaard in verbinding wil tree kan haar by 082 888 2731 kontak of stuur ‘n epos aan sandra@stylechallenge.international




