Nigel se nuwe boompies aangeplant
Ekurhuleni se Parke afdeling het hul belofte gestand gehou en die bome geplant.
Op 7 September het die Stad van Ekurhuleni se Parke afdeling hul belofte gestand gedoen deur rye nuwe jong bome by die ingang na Nigel te plant.
Dit volg nadat een van die departement se werkers in Aprilmaand vanjaar bome, wat deur die gemeenskap daar geplant is, afgesny het.
Die bome is aanvanklik geplant toe die gemeenskap en besighede op 11 September 2021 saam gekom het om sowat 150 inheemse bome by die ingang tot Nigel te plant.
Roché Pepler en Santana Pestana van Earth Owl, saam met die Kuthaza Foundation het die projek destyds gelei.
Besighede soos Epson Motors en skole in die gemeenskap het ook hul kant gebring.
“Dit was ‘n groot gemeenskapsprojek gewees verlede jaar,” het Pepler gesê.

“Gemeenskapslede het in hul massas uitgekom om ons te help en daar was selfs mense van Springs, Johannesburg en Pretoria wat hand bygesit het.”
Die projek is van stapel gestuur om die ingang na Nigel te verfraai maar ook om die voordele, wat met die plant van bome gepaard gaan, in ag te neem.
Pepler het beklemtoon dat die projek nie net bloot ‘n gewone boomplantdag was nie.
“Ons het die projek vir die gemeenskap begin met die klem op hoop vir Nigel en natuurlik wou ons die voorkoms van die dorp verbeter,” het Pepler gesê.

“Alhoewel dit onseker is hoeveel Witstinkhoutbome die parke departement nou geplant het om die vernietigde bome te vervang, is ons nogmaals dankbaar dat die belofte nagekom is,” sê Pepler.
“Daar is soveel voordele om bome te laat groei en ons vertrou dat die gemeenskap die voordele daarvan in die lange duur sal kan geniet.
“Ons vertrou dat daar voorts met groot sorg na die bome omgesien sal word en dat ons nie ‘n herhaling sal hê van wat met die oorspronklike bome gebeur het nie,” het Pepler mee afgesluit.



