Diamante en Goud se deure gaan finaal sluit
Dié unieke besigheid is oor vele jare deur derduisende mense besoek.
Die plaaslike besigheid, Diamante en Goud wat bekend is vir hul heerlike koffie asook unieke juwele, geskenke en oudhede is van plan om finaal hul deure te sluit.
Dié besigheid is oor vele jare deur derduisende mense besoek en was ‘n groot trekpleister vir besoekers van heinde en ver.
Die besluit om hul deure te sluit kom na die besigheid op 5 Junie helder oordag deur gewapende kriminele beroof is.
Die kliënte, eienaars en personeel moes op die grond lê terwyl al die juwele, horlosies en ander goedere deur die booswigte geneem was.
Die rowers het in twee voertuie van die toneel weggejaag.
Die voorval word deur Heidelberg SAPD ondersoek en leidrade word opgevolg.
Die eienaars, Melinda en Christo van der Merwe het op hulle Facebookblad ‘n verklaring uitgereik:
“Diamante & Goud en Plaashuiswinkel is op Maandag, 5 Junie 2023 deur agt gewapende rowers beroof. Buit is gemaak op al ons juwele.
Ons is dankbaar dat geen persoon ernstig beseer is nie.
Die rowers is weg met etlike miljoene rande se juwele, diamante en horlosies.
Ons is goed verseker vir brand en inbraak maar nie vir roof nie en daarom het die eienaars besluit om die winkel op 50% uit te verkoop en toe te maak.
Nadat ons uitverkoop het sal ons eiendomme ook te koop wees.
Ons nooi al ons kliënte om hulle inkopies te kom doen terwyl voorraad hou.
Alles moet gaan! Baie dankie vir u ondersteuning deur al die seisoene van ons besighede!”




