Berge bly Kestrel kampioene
Berge het Delmas laat les opsê in in die Kestrel finaal.
Heidelberg se eerste rugbyspan het op 5 Augustus teen Delmas in die Kestrel Liga finaal te staan gekom.
Berge was vasbeslote om die beker, wat hulle in 2022 gewen het, te verdedig en het inderdaad daad by die woord gevoeg. Hulle het met 57–28 gewen.

Die wedstryd was op Barnard Stadion in Kempton Park beslis.
Berge het bo-aan die punteleer geeïndig na die liga rondtes, nadat hulle met Vanderbijlpark in die semi-finaal afgereken het.
Delmas het op hulle beurt tweede geeïndig en in hulle semi-finaal met Oos-Rand Polisie afgereken.
Berge het die wedstryd sterk begin en was vinnig voor op die telbord deur ‘n strafdoel wat deur die pale gejaag is.
Daarna het Delmas met mening aangeval en agter Heidelberg se doellyn gaan kuier met ‘n drie wat gedruk was. Die vervyfskop was oor gewees.
Dié drie het tot groot aansporing vir Heidelberg gelei.

Die span het vier drieë in die eerste helfte gedruk, een vervyfskop en nog ‘n strafdoel was geslaagd gewees.
Delmas het nog een drie in die helfte aangeteken, wat verdoel was.
Heidelberg het met 28-14 teen halfeind voorgeloop.
Die tweede helfte was dit so te sê ‘n dubbele weergawe van die eerste helfte. Heidelberg het nog vyf drieë gedruk geslaag met twee doelskoppe.
Delmas het twee drieë gedruk en twee doelskoppe oorgeskop.
Delmas was skuldig aan verskeie oortredings waar hul handgemeen geraak het met Heidelberg en het verskeie strafskoppe afgestaan vir gemene spel.
Delmas het ook een rooi en een geel kaart in die wedstryd ontvang.
Heidelberg se punte is as volg aangeteken:
Drieë: Dwayne Rossouw (1), Roaan Viljoen (1), Jason van Jaarsveld (1), Brennan Ryan (1), Armand Wessels (1), Duncan van Zyl (2) en Franco Strydom (2). Doelskoppe: Roaan Viljoen (1), en Jason van Jaarsveld (2). Strafdoele: Roaan Viljoen (2).
Speler van die wedstryd: Ruaan Claasen
Heidelberg is op die vooraand om moontlik ‘n promosie/relegasie wedstryd te speel, met die hoop om op te skuif na die Merlin Liga.
Die wedstryd gaan binne die volgende twee weke plaasvind. Waar die wedstryd gespeel gaan word en wie die teenstanders is, is nog nie bekend gemaak nie.
Heidelberg Rugbyklub se bestuur het die borge en ondersteuners bedank wat bankvas agter die klub gestaan het gedurende die seisoen.

















