VLU Nigel is ‘n lighuis in die gemeenskap
Theresa Scholtz was die gasvrou vir die dag en het pastoor Dirk van TrueLight Ministries genooi om te praat oor die eienskappe van ‘n lighuis wat vergelyk kan word met dié van ‘n vrou.
NIGEL – Die VLU Nigel-tak het op 16 Januarie hul eerste vergadering vir die jaar gehou met die tema ‘Die lighuis en die vrou’.
Dit skakel ook in by die 2025 tema van die VLU, ‘Wees die Verskil’.
Theresa Scholtz was die gasvrou vir die dag en het pastoor Dirk van TrueLight Ministries genooi om te prat oor die eienskappe van ‘n lighuis wat vergelyk kan word met dié van ‘n vrou.
Hy het die volgende gesê,“’n Vuurtoring staan hoog en onwrikbaar, en bied leiding aan dié wat op see verlore is.
“Net so tree ‘n vrou dikwels op as ‘n rigtinggewende lig en bied ondersteuning en krag aan diegene rondom haar.
“Vuurtorings verduur storms en harde weer, maar bly staan. Vroue toon ook ongelooflike veerkragtigheid, wat die uitdagings van die lewe met moed en grasie aanpak en oorwin.
“Die lig van ‘n vuurtoring bring hoop vir diegene wat donker waters navigeer. Vroue kan ook bronne van hoop en inspirasie wees, wat die lewens van ander verlig.

“’n Vuurtoring waak stilweg oor die see, sy teenwoordigheid voel jy, selfs wanneer sy lig nie sigbaar is nie. Vroue speel dikwels die rol van stil bewaarders, koester en versorg hul geliefdes agter die skerms.”
Hy het ook bygesê elke vuurtoring het sy eie unieke ontwerp en storie. Net so is elke vrou uniek, met haar eie ervarings en skoonheid, veral onder die VLU vroue wat so kreatief is.
Die VLU lede is uitgewys as ligdraers in Nigel vir hul omgee harte en vir wat hulle vir hul naaste beteken. Die vroue is ook bedank vir hul toewyding aan die gemeenskap en aan die kernwaardes van die VLU organisasie.
Daar is tydens die vergadering ook gespog met kinders en kleinkinders wat goed gevaar het met hul eksamens.
Hettie Botha se 70ste verjaarsdag is herdenk en ‘n kers is aangesteek ter nagedagtenis aan Alta Hamilton, voorheen ‘n lid en voorsitter van VLU Nigel-tak, wie op 18 Desember verlede jaar haar stryd teen kanker verloor het.
Die volgende vergadering sal op 13 Februarie plaasvind. Vir meer inligting of om by die tak aan te sluit, kontak Elsa Greyling by 083 703 1763.
ALSO READ: Volkskool top presteerder skryf nege onderskeidings los
ALSO READ: Be a hero by being vigilant on your commute and at work




