Local newsNews

Bejaarde inwoners van Noycedale Woonstelle in Nigel is sonder water

‘n Langdurige watertekort by die Noycedale Woonstelle in Nigel laat pensionarisse en gestremde inwoners sukkel om basiese behoeftes te dek.

NIGEL – Die inwoners van die Noycedale Munisipale Woonstelle in Republiekstraat Nigel gaan tans gebuk onder ernstige diensleweringsprobleme, nadat hulle reeds vir bykans vier weke sonder behoorlike watertoevoer moet klaarkom.

Die situasie veroorsaak groot frustrasie onder veral bejaarde inwoners, wat voel dat hul herhaalde noodkrete deur die owerhede geïgnoreer word. Verskeie inwoners sê hulle is keelvol vir die gebrek aan optrede.

“Ons weet regtig nie meer wat om te doen nie,” het een van die inwoners gesê.

Alhoewel klagtes reeds by die beheerliggaam van die woonstelle ingedien is, sê inwoners dat daar tot op hede nog geen oplossing vir die waterprobleem nie.

Een van die inwoners, Diane Goosen (80), sê sy is raadop.


Sommige van die inwoners wat gebuk gaan onder die onbehoorlike watertoevoer. PHOTO: Eugene Viljoen

Volgens haar is verskeie oproepe gemaak en skriftelike versoeke aan Munisipale Behuising gestuur sodat aandag aan die probleem geskenk kan word.

“Ons het gebel, briewe geskryf en om hulp gesmeek, maar tot nou toe is geen werk gedoen nie,” sê Goosen.

Nog ’n inwoner, Charmaine Theunissen, verduidelik dat die waterprobleem vererger word deur voortdurende waterlekke op die terrein.

“Wanneer ons dit by Munisipale Behuising aanmeld, neem dit weke voordat iets gedoen word. Net een plek word herstel en dan ontstaan daar weer ’n nuwe lek elders,” sê sy. Volgens Theunissen is sekere gebiede só modderig dat inwoners gereeld in die modder vassit.

“Ons wasgoed hoop op omdat ons nie water het nie. Dit voel of ons hier op ’n ashoop neergesit en heeltemal vergeet is.”


Inwoners, waarvan sommige in rolstoele is, moet water by ‘n watertenker gaan haal en self sien om dit by hul wonings te kry. PHOTO: Eugene Viljoen

Dawid en Wilma Johnstone voeg by dat die probleme nie net by water ophou nie.

“Die lang gras wat nie gesny word nie, hou ’n ernstige veiligheidsrisiko in. Ons voel nie veilig in ons eie woonstelle nie,” sê hulle.

Dawid se voertuig is gedurende die nag van 25 Januarie oopgebreek, waartydens verskeie items gesteel is.

Inwoners sê verder die watertrok word nie daagliks uitgestuur nie en dat daar sommige dae glad geen teken daarvan is nie. Die meeste inwoners is pensioenarisse, waarvan baie afhanklik is van SASSA-pensioene.

“Ons kan nie die ekstra koste bekostig nie. Baie van ons gebruik hulpmiddels soos kieries, rolstoele en looprame. Wanneer ons wel water gaan haal, kan ons dit dikwels nie dra nie en sukkel om water by die huis te kry,” sê hulle.


Die ingang na Noycedale Munisipale Woonstelle met lang gras wat op die sypaadjie sigbaar is. PHOTO: Eugene Viljoen

Volgens Dawid Johnstone is water ’n menseregtekwessie.

“Water is noodsaaklik vir lewe en ’n basiese diens wat elke inwoner behoort te hê,” sê hy.

Peet de Beer, wat rolstoelgebonde is, sê hy moet elke keer self water by die watertrok gaan tap en dit na sy woning aanry.

“Daar is geen hulp beskikbaar nie. Dit is ’n daaglikse gesukkel om genoeg water vir basiese gebruik te kry.

“Ons vra nie vir luukshede nie, net dat water weer uit ons krane moet vloei,” sluit De Beer af.

Die Stad van Ekurhuleni is genader vir kommentaar.



LEES OOK: ActionSA councillor Nothando Pamella Mpantsha sworn in at Ekurhuleni council

LEES OOK: Gauteng Consumer Affairs warns matriculants about unaccredited colleges

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Eugene Viljoen

I am a person who likes to learn everyday and the more you live the more you learn, I love photography as it tells a story that words can not express. I love sports journalism.

Related Articles

Back to top button