Jaén-lee Pyne wat aangekla word van die moord op Etienne du Preez en poging tot moord op Flip Minnaar, in ‘n voorval wat op 3 Julie vanjaar plaasgevind het, het weer gister (11 November) in die Heidelberg Landdroshof verskyn.
Pyne was op die hofrol vir drie sake, alhoewel daar tans agt sake teen hom is.
Pyne se eerste saak was van die aanranding met die opset om te beseer asook opsetlike saakbeskadiging.
Pyne se advokaat was afwesig en sy prokureur het gevra vir uitstel van die saak sodat daar tot ‘n vergelyking kan kom oor betaling.
Die hof het aangehoor dat Pyne moontlik nie sy regskoste kan bekostig nie.
Landros Michael Twala het dit duidelik laat blyk dat dit nie geduld gaan word dat die hof se tyd gemors word nie.
Twala het gesê dit saak is al sedert 26 Januarie 2023 op die hofrol en dit tyd is dat die reg sy gang gaan.
Twala het die saak uitgestel tot 18 November sodat Pyne kan besluit of hy die dienste van sy prokureur en advokaat wil behou of andersins van staats regshulp gebruik maak.
Die saak van moord op Etienne du Preez en poging tot moord op Flip Minnaar is ook tot 18 November uitgestel tesame met vier afsonderlike klagtes, wat ook moord insluit.
‘n Verdere klag van moord spruit uit die ontdekking van ‘n liggaam in ‘n voortuin van ‘n huis in Arnoldistraat wat op 30 Oktober gevind is.
Hy sal in aanhouding bly tot hy weer in die hof verskyn.
LEES OOK: Pyne staar meer aanklagte in die gesig