CrimeLocal news

Burgerlike Beskerming lid sterf aan steekwond na hy aangerande vrou te hulp snel

“Na ‘n uur wat gevoel het soos ‘n ewigheid het ons die verdagte gevind so ook die wapen waarmee Rudi gesteek was. Ons het SAPS laat weet dat ons die verdagte gekry het. Die sektor voertuig het uit gekom en die man gearresteer” het Fox gesê.

‘n Lid van die Burgerlike Beskerming Eenheid van Nigel is op 25 November in die vroeë oggendure met ‘n mes dood gesteek nadat daar ‘n klagte op die noodgroep ontvang is oor ‘n jong vrou wat aangerand word.

Rudi Buys, saam met ander lede van die eenheid het ongeveer 00:30 gereageer op die oproep om hulp en was volgens die voorsitter van die Burgerlike Beskerming Eenheid, Marius Fox binne minute op die toneel.

“Ons het ‘n man op die toneel aangetref wat baie aggressief was en besig was om die jong vrou te slaan,” het Fox vertel en bygevoeg dat nadat die man die lede van die Burgerlike Beskerming gewaar het, het hy begin weghardloop.

Buys het die man agterna gesit terwyl die res van die lede na die vrou, wat baie ernstig beseer was, omgesien het.

Nooddienste en SAPS is gekontak en volgens Fox, terwyl hulle nog besig was by die vrou, het hy gehoor hoe Buys skreeu dat hy gesteek is. Buys was in sy maag gesteek.

“Ons het besef dat sy steekwond baie ernstig was. Een van die reaksie lede het mediese agtergrond en het met Rudi na Heidelberg Hospitaal gejaag terwyl van die ander lede by die vrou gebly het,” het Fox vertel.

Nog lede van die reaksie span het die man wat op voet geslaan het, agterna gesit.

Die wapen waarmee Rudi Buys vermoedelik gesteek was.

“Na ‘n uur wat gevoel het soos ‘n ewigheid het ons die verdagte gevind en so ook die wapen, wat vermoedelik gebruik is om Rudi mee te steek. Ons het SAPS laat weet dat ons die verdagte gekry het. Die man is inhegtenis geneem,” het Fox gesê.

Lede van die Burgerlike Beskerming het na Heidelberg Hospitaal gegaan om Buys te ondersteun. Volgens Fox het die dokters baklei vir Buys se lewe maar ongelukkig kon hulle hom nie red nie en het hy aan sy besering beswyk.

Daar is intussen verneem dat die verdagte van Lesotho afkomstig is. Die speurtak van Nigel het Sondag almal wat op die toneel was se verklarings geneem en die saak word ondersoek.

Fox het namens Burgerlike Beskerming vir SAPS, Nigel GPF, Crimestop, die nooddienste en almal wat op toneel gehelp het bedank.

Buys was die broodwinner in sy gesin en laat sy vrou en vier dogters agter. Die gemeenskap help met fondsinsameling vir begrafnis kostes en kosvoorsiening vir die gesin.

Indien lede van die gemeenskap wil help of ‘n bydrae wil maak, kontak Marius Fox by 084 661 3666.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button