Marnus ‘Manie’ Meyer, wat op 2 April sy 65ste verjaardag gevier het, sal op 30 April amptelik van sy pos as senior toetsbeampte by die Nigel Lisensiekantoor aftree, na ‘n loopbaan van meer as 41 jaar.
Meyer het destyds op 1 Oktober, 1981, by die kantore as ‘n toetsbeampte begin.
“Voordat ek by die lisensiekantoor begin het, was ek eers ‘n verkeersbeampte en was ook by die brandweer,” het Meyer vertel.
“Tussendeur het ek gaan studeer en het my tegniese verkeersbeampte diploma en my toetsbeampte lisensie ontvang.”
Meyer meen dit was vir hom veral lekker om mense op te lei en om die vreugde in hul gesigte te sien wanneer hulle die toets geslaag het.
Volgens hom sal die mense en hul vreugdevolle of angstige gesigte hom altyd by bly.
“Baie mense sal my onthou as iemand wat grappe gemaak het,” het Meyer gesê.

Meyer sê hy is dankbaar vir sy vrou Martie wat hom nog al die jare ondersteun het.
“My vrou sê altyd, hou jou oog op die wenpaal en dit is presies wat ek gedoen het. Nou kan ek die vrugte daarvan pluk.”
Meyer se kollegas het op 26 April vir hom ‘n afskeidsgeleentheid gehou, waartydens hulle hom vereer het vir sy dekades van harde werk.
“Oom Marnus laat groot skoene agter om te vul,” het Talbert Mokhonoana gesê.
“Ons het vir jare lank ‘n kantoor gedeel, baie gelag en lekker tye saam gehad wat ek baie sal mis.
“Manie, vir alles wat jy deur die jare gedoen het en vir alles wat jy vir my geleer het, sê ek dankie,” het Jan Fouché, kollega en jarelange vriend van Meyer, gesê.
“Gaan geniet nou jou aftrede, jy verdien dit.”

Meyer het gesê hy sal graag vir God dankie wil sê vir die seëning om te kon werk vir so lank as wat hy kon.
“Een en vertig jaar en ses maande is nie ‘n kort tydjie nie. Dankie vir elkeen van my kollegas, vir julle ondersteuning deur die jare en dat julle my jonk gehou het. Ek gaan elkeen van julle mis.”
Meyer het gesê sy werksmense het sy familie geword en hoop dat hulle ‘n familie sal bly.
“Ek gaan nie nou gaan sit en niks doen nie. Ek gaan houtwerk doen en toer en die natuur geniet. Elke werk en loopbaan het sy goeie tye en slegte tye, maar ek sal dit verseker oordoen weens die liefde wat ek daarvoor het.”



