Local newsMunicipal

Ontmoet jou Wyk 8 VF+ kandidaat: Ounie Coetzee

Voorstelling van die Wyk 8 tussenverkiesing kandidaat, Ounie Coetzee.

Ounie Coetzee (52) is die VF Plus kandidaat vir die Wyk 8 tussenverkiesing.

• Wat is jou prioriteite in die wyk?

Wyk 8 het soos die res van Heidelberg groot uitdagings. Slaggate, stukkende straatligte en misdaad.
Ek moedig ‘n positiewe gesindheid onder inwoners aan, om self ook in te spring om sypaadjies te onderhou en die wyk skoon te hou. Om misdaad hok te slaan, is dit belangrik dat inwoners betrokke raak by buurtwagte en die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum. Ek glo dat, as inwoners saamstaan, kan die wyk omskep word in ‘n veilige en spog gebied wat as voorbeeld vir die res van Heidelberg kan dien.

• Wat is jou uitdagings in die wyk?

Die Lesedi Plaaslike Munisipaliteit is in ‘n benarde finansiële situasie met ontoereikende dienslewering.
Stygende munisipale tariewe ontmoedig ondernemings om meer te belê in die dorp wat ekonomiese groei kortwiek.

Die gevolg is ‘n verarmde bevolking en werkloosheid wat die inkomstestroom van die munisipaliteit verder verminder. Die primêre oorsaak van die penarie waarin Lesedi himself bevind is die ANC se jarelange finansiële wanbestuur, korrupsie, selfverryking, kaderontplooiing en verkeerde prioriteite.

Daar is ‘n algehele tekort aan fiskale dissipline op plaaslike regeringsvlak.

Inwoners van Wyk 8, wat getrou diensrekeninge vereffen, verdien straatligte wat brand, netjiese sypaadjies, paaie wat nie besaai is met slaggate nie en misdaadvrye omgewing.

Die VF Plus sal by die verskillende departemente en ook in die raad aandring dat Wyk 8 die dienste kry waarvoor hulle ten duurste betaal.

• Watter eienskappe besit jy om die werk doeltreffend aan te pak?

Ek is ‘n Heidelberger in murg en been.

Heidelberg is my tuiste waar ek grootgeword het en dit is skokkend hoe die dorp oor die jare stelselmatig verval het.

Weens die verval en die ANC-regering se onvermoë om die munisipaliteit suksesvol te bestuur, bestee ek ‘n groot deel van my dag aan raadsake en om inwoners te help met diensleweringsprobleme.

Ek hou daagliks die munisipaliteit verantwoordelik om sy diensleweringsfunksie na te kom en veg op elke platform vir inwoners se reg op die dienslewering wat hulle verdien.

As lid van Heidelberg se gemeenskapspolisiëringsforum staan ek elke oggend om drieuur op om patrolliediens te doen.

Die maatskaplike welvaart van inwoners lê my na aan die hart en ek kan ‘n persoon in nood nie ignoreer nie.

Related Articles

 
Back to top button