Mathys Strydom (23) word onthou
Strydom het 'n groot vriendekring gehad en was altyd 'n gelukkige mens.

Vriende en familie het op 12 Mei afskeid geneem van Mathys Strydom (23), ’n gewilde Heidelberger wat op 5 Mei in ‘n motorongeluk oorlede is. (Ongeluk eis Heidelberger)
Honderde huldeblyke en boodskappe is sedert die jong man se dood op sosiale media gedeel; ‘n aanwysing van hoe gewild hy was en dat hy ‘n groot leemte laat.
‘n Hegte vriendin van Strydom, Melissa Ludick, het haar herinneringe aan haar vriend van die afgelope 15 jaar met die HERAUT gedeel.
“Mathys was nie net ‘n familie-mens nie, hy was ‘n almal-mens,” vertel sy.
“Dit is verskriklik moeilik om hom te moet groet. Hy het baie vriende en het baie mense geken. Hy was die kuier-leier, die gees van die jol. Selfs op skool het ons baie interhoër byeenkomste bygewoon waar ons sou dans, skree en sing.”

Strydom het in 2018 aan die Hoër Volkskool gematrikuleer.
Na skool het hy dadelik begin werk waar hy vir ‘n tyd ook in Balfour gewerk het. Maar sy groot passie was, volgens Ludick, modelwerk.
“Hy was ‘n gelukkige mens wat altyd gelag het en hy was so stylvol in alles wat hy gedoen het,” het Ludick vertel.
“Ek dink hy was regtig net die definisie van lewe, iemand wat wou lewe. Ek sal alles van hom mis en nog meer van hom onthou, veral sy lag. Hy was regtig net die definisie van ‘n vriend.”
Strydom laat sy ouma, Alida, en jonger suster Christien agter.