Jaarlikse kranslegging waargeneem
Die kranslegging ter ere van gestorwe soldate vind plaas elke jaar.
Heidelberg Suikerbos Shellhole MOTHS het op 25 Junie hul jaarlikse kransleggingseremonie by die ou tronk in Heidelberg gehou.
Tydens die seremonie word gestorwe kamerade, van Heidelberg asook die Heidelberg Kommando onthou en word daar hulde aan elkeen gebring.

Kraay van Kraayenburg van die Suikerbos Shellhole het die seremonie geopen. Ds Quinten Schimper van die NG Kerk Rensburg het skriflesing en gebed gedoen, waarna die kranslegging gevolg het.
Elke gestorwe persoon op die lys was deel van die Heidelberg Kommando of het ‘n verbintenis tot Heidelberg gehad tydens die verskillende oorloë.

‘Ou Bill’ Tony Burisch het ‘n kort oorsig oor Heidelberg Kommando se rol tydens die Tweede Anglo-Boereoorlog gegee, waarna Kraay van Kraayenburg die lys van al die gestorwe kamerade gelees het.
Die kranslegging het begin met Veldkornet Salmon van As wat deur die Britse soldate tydens die boereoorlog by die tronk tereggestel is.

Evert Pistorius het van As se verhaal deurgegee. Tydens die Anglo-Boereoorlog het van As glo kaptein Miers doodgeskiet. Hy is op 23 Junie 1902 deur ‘n Britse hof aan moord skuldig bevind en tot die dood veroordeel.
Van As is net agter die tronk deur ‘n vuurpeloton tereggestel, wat uit 10 Britse soldate bestaan het.

Hy is eers agter die tronk begrawe, maar later herbegrawe in die heldeakker van die Kloof begraafplaas.
Jare later het die Britse regering erken dat van As foutief tereggestel is.

Burisch het die eerste krans gelê ter ere aan Van As.
Daarna het verskeie MOTHS regimente in die area hulde gebring aan diegene wat gesterf het tydens hul diens aan Suid-Afrika.

Die MOTHS van Barrage, Brug 14, Regiment Dan Pienaar, Eenheid Suikerbos Weermag Veterane, Brendin Horner Stigting, Genootskap van die Handhawing van Afrikaans en familielede het almal kranse ter nagedagtenis gelê.






