Local news

Inwoners brei teddiebere vir kinders van Oekraïne

Die mikpunt is om ten minste 500 beertjies te stuur.

Verskeie kerke asook ‘n aftreeoord in Heidelberg het hul onlangs breinaalde nader getrek en beertjies vir ‘n vale gebrei.

Dié magdom gebreide beertjies gaan na die Oekraïne gestuur word, waar dit versprei sal word onder kinders in dié oorloggeteisterde land.

Daar is tans derduisende kinders wat verplaas is weens die oorlog. Van die kinders is in buurlande, en het geen kontak met hulle eie families nie.

Die beertjie projek is deur Cornelius en Lana Grundling, lidmate van die AGS Kairos Kerk van stapel gestuur.
Die egpaar het vriende wat in Oekraïne woonagtig is.

Nadat die oorlog uitgebreek het, het die Grundelings se vriende hulle op hoogte gehou van die impak van die oorlog en veral oor die feit dat derduisende kinders hul wonings en besittings verloor het.

Die kleurvolle teddiebere wat gebrei was.

Lidmate van die AGS Kairos Kerk was egter nie die enigste mense wat fluks aan die brei gespring het nie.

Die NG Kerk Rensburg, met ds Quinten Schimper en Minette Roodt aan die spits, het ook breinaalde, wol en beertjies geskenk.

Inwoners van Gemoedsrus Aftreeoord het nadat hulle van die projek gehoor het ook nie geskroom om te help nie.

Altesaam 267 beertjies is binne ses weke gebrei.

“Daar word nog gewag vir ander persone en instansies om hul bydraes te kom oorhandig, alvorens die projek afgehandel kan word,” het Cornelius Grundling gesê.

Cornelius en Lana Grundling saam met dominee Wimpie Cronje.

“Ons mikpunt is om ten minste 500 beertjies te stuur. Die beertjies gaan vroeg Augustus aan Oekraïne se ambassadeur Liubov Abravitova oorhandig word waarna dit onder kinders versprei sal word.

“Die kinders het tydens die oorlog, wat tans daar woed, soveel verloor en die hoop is dat die beertjies ‘n glimlag op elke kind se gesig sal bring.

“‘n Groot hulp was Loerie drukkers wat etikette met die woorde ‘Jesus het jou lief’ in die Oekraïniese taal gratis vir elke beertjie gedruk het,” het Cornelius gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button