Suikerbos Aftreeoord inwoners vat die pad
Heerlike plaatkoekies en roomys was op die spyskaart.

Inwoners van die Suikerbos Aftreeoord het op 8 Februarie ‘n uitstappie na Silveroaks (Tree Trust Agri Co.) plaas by Houtpoort, onderneem.
Die eienaar van die perseel, Cheryl Burgess tesame met Hennie van Staden geniet dit om van tyd tot tyd die senior burgers van Suikerbos op die plaas te ontvang.
Die heerlike plaatkoekies en roomys wat elkeen ontvang het was ‘n groot pluspunt.

Hennie voel dit is sy manier van teruggee aan die afgetredenes vir alles wat hulle vir die gemeenskap in die verlede gedoen het.
“Ek doen dit uit die liefde in my hart vir elke ouer persoon wat in ons tehuise woonagtig is.
“Op die manier kom hul uit die daaglikse roetine en ervaar iets nuuts en kan hulle vir ‘n rukkie ontspan.
“Dit is die vierde uitstappie na ons toe sedert 2023,” het Hennie vertel.
Nadat almal die soetigheid geniet het, het Hennie die ouer kuiergaste met sang en kitaarspel vermaak.
