Geure en kleure by VLU Rensburg tak vergadering
Die volgende vergadering sal op 16 April plaasvind.
Marty Jerling, voorsitter die Vroue Landbou-Unie Rensburg tak het op 20 Februarie lede en gaste tydens die tak se 520ste vergadering verwelkom.
Die dag was gevul met geure en kleure waartydens Andries Kemp van Rolkem veelsydige demonstrasies met voedsel kleure en geure gedoen het.
Rolkem is ‘n vervaardiger en verspreider van eetbare voedselkleursel, pigmente, gels en verf.
Die vergadering by die Klipkerk saal was stampvol en daar was gretig geproe aan die lekkernye wat Kemp aanmekaar geslaan het.
Daar was onder andere malvalekker poffers, sjokolade pops, geurige melkskommels en hazelneut skuimpies.
Kemp het vertel hy het as kind vele VLU vergaderings saam met sy ma bygewoon en het van kleins af baie oor suikerkuns geleer.
Hy het die vroue ‘n paar nuwe tegnieke geleer en selfs gewys hoe om sjokolade in ‘n staalbak met ‘n haardroër te smelt.
VLU lede van Vereeniging, Sasolburg en omliggende omgewings het ook die oggend bygewoon.
Soos gewoonlik is die vergadering afgesluit met lekker tuisgemaakte disse.
Die volgende vergadering sal op 16 April plaasvind.
Vir meer inligting kontak Marty Jerling by 082 465 9343.