Prontuit: Egpaar deel hul reis as besigheidsvennote
“Ons maak seker ons elkeen verstaan mekaar se rolle en skryf nie voor hoe om by ‘n oplossing uit te kom of ‘n taak te verrig nie en ons leer daagliks by mekaar.”

Om as ‘n egpaar saam in besigheid te wees het sy uitdagings maar kan ook voordelig wees omdat jy meer tyd saam kan deurbring.
Die Heraut het die week by egpaar en besigheidsvennote, Thinus (58) en Magda (56) Greyling in Nigel gaan kuier om te hoor wie is wie se baas.
Die egpaar deel ‘n passie vir koffie en het in 2020 besluit om saam ‘n besigheid te begin.
Hulle is vir 11 jaar getroud en behalwe vir hul kinders en kleinkind, is koffie die grootste passie en liefde wat hul deel.
Die uitnodiging van ‘Kom drink ‘n koffie’, is vir die Greyling gesin nie net ‘n gewone koppie koffie nie, dit is ‘n ondervinding wat hulle met hul gaste wil deel om letterlik die smaak op hul lippe te los.
Vir hulle is daar niks lekkerder as die reuk van vars geroosterde koffie nie en nadat Thinus sy permanente werk gelos het in 2020, het hy en Magda besluit om voltyds van hul passie ‘n besigheid te maak en so is die koffie roostery begin.
“Ons wou oorspronklik ‘n koffiewinkel begin het om meer tyd saam deur te bring maar na baie navorsing en omdat ek en Magda beide ‘n liefde het vir vars geroosterde koffie, het ons die koffie roostery begin.
Hy het ook vertel hy en Magda het verskillende denkwyses oor hoe om by dieselfde punt uit te kom en dat hulle moes leer hoe om elkeen sekere take en verpligtinge aan te neem sonder voorskrewes van die ander want elkeen wil sy eie kreatiwiteit en manier van dinge doen uitleef.
“Elkeen se sterkpunte vorendag gekom soos wat ons besigheid gegroei het.
“Ek sal aankope doen, rekenaarwerk, roosterwerk en onderhoud doen terwyl Magda bemarking besprekings en beplanning doen. Die finansiële uitgawes beplan ons saam,” het Thinus verduidelik en bygevoeg dat albei toegang het tot die besigheidsrekening en ook mekaar se rolle kan volstaan sodat die besigheid kan groei.
“Ons maak seker ons elkeen verstaan mekaar se rolle en skryf nie voor hoe om by ‘n oplossing uit te kom of ‘n taak te verrig nie en ons leer daagliks by mekaar,” het Thinus voortgegaan.
In die begin was dit nie altyd maanskyn en rose nie en die twee het soms koppe gestamp en take verrig met stilstuipe.
“Ons het gegroei en besef dit is aanvaarbaar om mekaar te los terwyl een besig is met wat hy of sy doen en hoe dit gedoen word en dat daar meer as een manier is om dinge te doen en myne of syne nie noodwendig reg is nie,” het Magda vertel.
Geld het op ‘n stadium net so vinnig uitgevloei as wat dit ingekom het en dit het hul bang gemaak; soveel so dat Thinus selfs oorweeg het om weer permanent te begin werk.
“Ons het ons uitgawes maar beperk en deurgedruk en geglo in onsself en die besigheid.
“Magda se bemarking het ons deur hierdie tyd gedra en die groei van inkomste verseker,” het Thinus gesê en vertel hoe die besigheid hul verdraagsaamheid verbeter het.
“Covid het baie stres gebring met maande wat stil was maar ons weet ons is die beste span wat mekaar aanvul. Daarom weet ons alles wat ons saam aanpak ‘n sukses sal wees,” het Magda gesê.
Die egpaar se plan is om hul koffie besigheid te laat groei tot op ‘n punt waar hulle net op rooster kan konsentreer.
Op die oomblik doen hulle alles self vanaf roostery tot verpakking.
“Ek voel ons besigheidsplan is reg om by ons doelwit te kom en dit ook dan te handhaaf. Ons moet net by dit bly. Dit is maklik om betrek te word by geleenthede wat jou aandag en fokus aflei,” het Thinus bygevoeg.
Hul boodskap aan paartjies wat saam ‘n besigheid wil begin is, “Leer om dankie te sê en nie alles te kompliseer met vooraf gedagtes nie, jou maat het nie ‘n plan om jou te verneder nie.
“Vergewe jouself, doen jou take sodat jou maat trots is op jou, moedig aan, vergeet die negatiewe.
“Werk hard. Oorweeg elke voorstel saam en doen dit net as dit by die besigheidsplan insleutel.
“Moenie rykdom in geld verwag nie; jou rykdom is om die pad saam in liefde te kan stap.
“Die bietjie geld wat julle saam verdien daardeur, sal saam met die verhouding groei,” het Thinus afgesluit met ‘n vars gemaakte koppie koffie in sy hand.