Local news

NG Kerk Nigel-Oos verwelkom nuwe leraar

“Ek en my vrou is op ‘n reis saam met die gemeente en ons hoop om die breeër kerklike landskap te vergroot en behoue te laat bly.”

Riaan Jonker (35) het op 28 April sy plek agter die preekstoel by NG Kerk Nigel-Oos ingeneem as die leraar wat tot die gemeente beroep is.

Jonker is in Februarie met Maryke getroud in die Klipkerk waar sy broer Francois die predikant is en die huweliksbevestiging gelei het.

Jonker is van Wolmaransstad waar sy ouers, Frikkie en Corné, steeds boer.

Hy het sy teologie studies aan die Universiteit van Bloemfontein voltooi en Wolmaransstad was sy eerste gemeente.

“Ek het van kleins af geweet ek is geroep vir die bediening en wou nog nooit iets anders doen as om die Here se Woord te verkondig nie,” het Jonker vertel.

Nigel is sy tweede gemeente en hy het vertel hy het sommer dadelik tuis gevoel.

“Die gemeenskap hier het ons hartlik ontvang en verwelkom. Dit is vir ons lekker om op ‘n dorp te bly wat nog ‘n plattelandse gevoel het en ons het maklik aangepas,” het hy gesê.

Sy inleidingspreek in April se tema was ‘Die maar in elkeen se lewe’, weerspieël die visie wat hy vir sy gesin en sy gemeente het.

“Joshua en Kaleb moes Kanaan gaan verken en het ten spyte van die gevare aan God se beloftes vas gehou. Daar is altyd ‘n ‘maar’ in elkeen se lewe wat hul dalk mag huiwerig maak om iets te vermag, maar God se Woord huiwer nie en soos Joshua en Kaleb moet ons vashou aan Sy beloftes,” het Jonker gesê.

Sy visie vir die gemeente is om ‘n tuiste te skep waar mense werklik die Here se teenwoordigheid kan voel.

“Mense is soms geneig om die Here op die kantlyn te sit. Met soveel wêreldse dinge wat veral die jeug beïnvloed, is dit noodsaaklik om te fokus op dit wat nie van die wêreld is nie,” het hy vertel en bygevoeg die gemeente gaan met heelwat jeugaktiwiteite afskop gedurende die wintervakansie.

Riaan Jonker is die nuwe leraar by NG Kerk Nigel-Oos.

Jonker geniet die buitelug, veral plante en bome en in die wildtuin sal hy eerste vir die bome kyk as vir die diere.
Sy groot liefde bly mense. Hy geniet die spontaniteit van die jeug en die ouer mense en het ook reeds ‘n paar draaie by die plaaslike aftreeoorde gemaak.

Vir Jonker is ‘n goeie leier iemand wat nie bang is om self te werk nie. Wat nie delegeer nie maar eerder bou en saam groei.

“Ek en my vrou is op ‘n reis saam met die gemeente en ons hoop om die breeër kerklike landskap te vergroot en behoue te laat bly,” het hy gesê.

Hy sê dat hy nie terugstaan vir uitdagings nie en uitsien om ‘n verskil in die kerk en die gemeenskap te maak.
Sy gunsteling Bybelvers is 2 Korinthiërs 5:17 wat sê: ‘Iemand wat aan Chirstus behoort is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God.’

“Ons moet vasstaan in God se Woord en onthou ons behoort aan Hom. Ten spyte van die verlede wat ons dalk seergemaak het of van Hom af weggetrek het, kan ons almal nuut wees in Christus.

“Ons is nuut in die gemeente maar saam is ons lief vir God. Ons is dankbaar vir die gemeenskap en hul hartlike ontvangs vir my en my vrou en sien uit om saam te bou en te groei,” het hy afgesluit.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button