Dorp van die Jaar: Heidelberg Hope het groot planne
Die titel van ‘Dorp van die jaar’ sal vir Heidelberg ‘n hupstoot gee om verdere projekte te doen en om sodoende die dorp te herstel na sy verdiende glorie om veral toeriste te betrek
Heidelberg is op 28 Julie op kykNET se program Kwêla as die dorp van die jaar vir 2024 aangewys.
Albert Grobler en Nicolene Neveling van Heidelberg Hope was die gaste op Kwêla toe die aanbieder, Hannes Van Wyk, die aankondiging gemaak het.
“Ons is baie dankbaar vir almal wat gestem het vir ons mooi dorp en is baie trots om die titel van dorp van die jaar te kan dra,” het Grobler gesê.
“Ons wil graag die unie-sportvelde opgradeer sodat die dorp se sportsterre op tuisgrond hul vernuf kan wys,” het Neveling gesê.
Heidelberg Hope, ‘n nie-winsgewende organisasie het sedert Februarie die jaar opknappingswerk en verskeie skoonmaak projekte in en om die dorp gedoen.
Verskeie mure is verfraai met muurkuns en asblikke, wat vrolik geverf is, is aangebring op verskeie plekke in die strate van die dorp.
Die titel van dorp van die jaar sal vir Heidelberg ‘n hupstoot gee om verdere projekte aan te pak en om sodoende die dorp te herstel na sy voormalige glorie; om veral toeriste te betrek. Heidelberg was die dorp met die meeste stemme en wen R1m in bemarkingswaarde van kykNET.
Homebrew Films, die vervaardigers van Kwêla, sal ’n 45 sekonde advertensie oor Heidelberg maak, wat gedurende kykNET se advertensietyd uitgesaai sal word.
Daar sal ook ’n groot opskop in Heidelberg gehou word met musiek, kos, pret en natuurlik wendorp-gees!
Kwêla sal daar wees om dié geleentheid te verfilm, en dit sal later die jaar uitgesaai word. Lottoland skenk ook in hulle eie hoedanigheid ‘n R1m kontantprys vir Heidelberg om terug te ploeg in die dorp en sy gemeenskap.
Met die werk wat Heidelberg Hope reeds vir die afgelope sewe maande doen, was dit duidelik vir almal dat die gemeenskap saam wíl staan en die dorp wil herstel.
Sedert Heidelberg Hope met skoonmaak projekte begin het, het besighede ook ingespring en gesorg dat hulle hul deel doen.
Sypaadjies is aangeneem om mooi te maak, asblikke is aangekoop en geverf en muurkuns is deur plaaslike kunstenaars gereël.
Die padtekens word ook geverf en slaggate herstel.
Selfs skoolkinders het besluit om hul vrye tyd op te offer om rommel in die strate te gaan optel.
“Ons is baie bly ons dorp het gewen. Ek is hier gebore en word hier oud,” het Freddie Deysel vertel.
Hy en sy vrou Driekie is inwoners van Riversand Aftreeoord en het vertel hoe hulle almal gemotiveer het om te stem.
Die huidige bestuurder van Pick n Pay in die Victorian Sentrum, Etienne Naude, het vertel dat hy en die personeel ook almal gestem het en verheug is dat Heidelberg die wen dorp is.
Reg van Deventer, het vertel dat hy 32 jaar in die dorp gebly het voordat hy en sy vrou by Nigel gaan aftree het.
“Ons het verseker gestem vir Heidelberg. Dit sal altyd my tuiste wees. Ek hoop van harte dat daar aandag gegee sal word aan die water-tekort probleme waarmee inwoners moet sukkel,” het van Deventer gesê.
Om die titel van dorp van die jaar te wen, kom saam met verskeie regulasies en die geld moet so gespandeer word dat dit nie slegs ‘n paar mense help nie, maar die hele dorp kan bevoordeel.
Nicolene Neveling, woordvoerder van Heidelberg Hope het vertel dat toe Kwêla die dorp in Junie besoek het, moes Heidelberg Hope toe al ‘n voorlegging ingedien het van wat die dorp met geld sou doen.
“Ons moes kwotasies indien en bewys lewer dat ons plaaslike besighede sou gebruik vir die werk wat beplan word en ons moes ‘n projek kies wat die hele gemeenskap by baat kan vind.
“Ons het lank gedink wat ons kon doen waarby almal baat kon vind en het besluit om die Unie velde op te gradeer vir ons skole,” het Neveling vertel.
Behalwe vir Hoër Volkskool, beskik geen van die dorp se skole oor ordentlike sport fasiliteite nie. Die dorp het nie tans veel om buitemuurs te bied nie.
Met die opgradering sal inwoners tennis, muurbal en rolbalbane hê om te benut.
Die skole sal die gebruik van tennis, netbal, hokkie, krieket en later ook rugby- en sokker velde hê.
“Ons besef daar is groot probleme veral met water in dele van die dorp, maar die geld sou nie naastenby genoeg wees om die probleem ten volle op te los nie.
“Ons wou dit ook nie spandeer op padwerke en ander projekte nie aangesien daar reeds, danksy donasies van plaaslike besighede, projekte in plek is om aandag aan die probleme te gee,” het Neveling gesê.
Die Heraut het heelwat inwoners gevra hoe hulle voel nadat Heidelberg as dorp van die jaar aangewys is en die algemene gevoel is een van trots, blydskap, kameraadskap en dit wil voorkom asof daar ‘n opgeruimde gemoed in die dorp heers.
Hier volg ‘n gedig wat deur ‘n inwoner geskryf is:
Heidelberg
Wat maak jou so mooi
Is dit die Suikerbos se rand
Of die son wat sy strale daaroor strooi
Weet mense ooit van jou prag
Jou ryk geskiedenis vasgelê in jou stad
Strate vol heimwee
Ueckermann het jou gestig
Dadelik geweet hier skyn daar baie lig
Die boerevolk met perd en wa betree
Jy is ‘n mengelmoes van dorp en plaas
Jy bied ‘n kalmte, rustigheid weg van geraas
Met elke straat se naam is jou voorouers gebind
Mag ons nooit vergeet
Hoe hul jou gevind
Hier word kinders anders groot
Hier help mense mekaar in nood
Eens hoofstad van Transvaal
Steeds trots bly jy staan
AG Visser met sy digters pen
ud-inwoner was hy geken
Die klip kerk, jou ikoon, eeue oue bestaan
Waar kinders jare terug kon skool gaan
Heidelberg jou weivelde is groen
Vrugbaar is jou grond
Boer het goed gedoen
Gevul met staaltjies
Histories en nostalgies
Mag ons jou nooit verruil om anders te kies
Leef voort, brei uit
Nederigheid volbring
Dorp van die jaar
Ons sal jou altyd met liefde bewaar
Skrywer: Anoniem











