Prontuit: Wees die hand van omgee en hulp verleen is Yolandi Daschner se raad
“Dit maak my dag as ek iemand se dag so bietjie beter kan maak."
Die Heraut leer ons mense ken en het dié week met Yolandi Daschner (43) gaan gesels. Sy is sedert 2000 deel van die SAPD en sien dit as haar roeping.
Yolandi is ‘n enkelouer met twee dogters Demari Minne (18) en Tiana Minne (16).
Die gesin woon in Nigel en Yolandi is tans die sektor bevelvoerder vir Sektor 3 by die Heidelberg SAPD.
Polisiewerk is haar roeping, en sy het die eerste keer in 2000 by die polisie aangesluit.
“Jy kan nie die werk wil doen as jy dink dit gaan jou ryk maak nie.,” vertel sy.
“Dit is my tweede keer in die polisie Ek het voorheen die polisie verlaat en 10 jaar lank by die staatslykshuis (FPS) gewerk.
“Daarna het ek in Januarie 2016 teruggekeer na die polisie en by Heidelberg SAPD aangesluit.
“’n Mens kan seker maar sê ek het teruggekom huis toe, en dat die polisie in my bloed is,” vertel Yolandi.
Sy glo daar is goed in elke mens en dat mense mekaar moet probeer help. Die goeie woordjie wat jy vir iemand uitspreek, is dalk al waaraan daardie persoon kan vasklou.
“Ons bly in ‘n wrede en onvergeefbare wêreld; ons kyk so maklik neer op ander.
“Dit maak my dag as ek iemand se dag so bietjie beter kan maak.
“Dit voel ook baie goed vir my as ons ‘n oortreder agter tralies kan sit en voor die hof kan bring en daardeur Heidelberg ‘n veiliger plek kan maak.
“Polisiewerk is ‘n ondankbare werk en mense het jou gewoonlik net nodig as iets slegs gebeur het, of as jy ‘n slagoffer van misdaad was. Al is mense gewoonlik nie aanvanklik bly om my te sien nie, streef ek daarna dat wanner ek daar wegry, dat hulle gerus sal voel dat ek wel daar was,” het Yolandi vertel.
Yolandi woon sedert 2013 in Nigel maar het vertel hoe trots sy is op Heidelberg is, wat nou Kwêla se Dorp van die Jaar is.
“Ek glo as ons aanhou saamwerk en bou op dit wat ons reeds het, kan ons uitsien na groot dinge, nuwe vriendskappe en bande, sowel as om menslikheid en kameraadskap terug in die samelewing te pomp.
“Ek weet daar is baie mense wat glo dat Heidelberg dit nie verdien het nie, maar ek hoop ons kan saam as ‘n span beter doen, en mense se harte verander,” het sy vertel.
‘n Projek wat baie na aan Yolandi se hart lê is die straatstort projek.
Dié projek betrek plaaslike besighede en vrywilligers en maak seker dat mense wat op straat woon bederf word met ‘n warm stort en die versorging van hul hare hare, voete en hande.
“Ek het al hulp by ‘n paar straatstort projekte verleen.Ek het gesien dat daar regtig ‘n behoefte vir ‘n uitreiking in Heidelberg is, en het besluit om die taak aan te pak.
“Die straatstort projek is gestig om mense in die straat op te tel en weer te wys dat hulle waardig is, asook om hulle te help om te weet dat daar wel organisasies is wat bereid is om te help, sou hulle besluit om die eerste stap tot genesing te neem.
“Mense wat aan dwelms verslaaf is, is nie net slegte mense nie, daar is baie versteekte redes vir hul lewenspaaie,” het sy gesê.
Yolandi het ‘n beroep op die gemeenskap gedoen om die projek te ondersteun en bygevoeg dat sy mense van die dorp nodig het om hande te vat om te help om die projek ‘n sukses te maak.
Vir dié wat betrokke wil raak, ‘n bydrae wil maak of hul tyd opoffer, kan Yolandi by 082 856 0968 kontak.
Die straatstort is ‘n gemeenskapsprojek wat op 21 September by Kairos Kerk langs die sirkel in Voortrekkerstraat gehou sal word. Daar is nog ‘n behoefte aan onder andere seep, mense wat hare kan sny, naelknippers,
naelvyltjies, bestanddele vir pannekoek, bakke vir hande en voete was, Engelse Bybels, skêre en kos items.
Yolandi is passievol oor haar familie, en oor die gemeenskap en sy mense. Sy vertel dat sy al baie lelik van die lewe gesien en ervaar, maar in elke situasie was daar nog altyd ‘n hand van omgee en hulp. Sy wil graag daardie hand vir iemand anders wees, en dalk ander mense aanspoor om ook so ‘n hand te wees.
“‘n Mens hoef nie geld te hê, of jouself te na te kom om goed te wees vir iemand nie.
“As jy een persoon per dag kan laat glimlag het jy reeds baie vermag. En jy sal verbaas wees wat dit vir jou gemoed ook kan doen,” het sy bygevoeg.
Haar boodskap aan die gemeenskap is om klein te begin.
“Probeer deur vir iemand, met wie jy gewoonlik nie sal praat nie, te glimlag of vra vir die persoon hoe dit gaan.
“Wees die verandering wat jy graag in die wêreld wil sien.”



