Oud-Volkie maak naam op universiteit
Matthew Luës blink uit op akademiese- en sportgebied by Akademia.
Matthew Luës, ‘n voormalige VR-lid van Hoër Volkskool (2023), is op 8 Augustus as adjunkvoorsitter van die Akademia Studente Raad aangewys.
Matthew is tans ‘n BCom, ekonomie en regte student by Akademia Universiteit in Pretoria en het van dag een af sy rol as nuwe Fontie vol gestaan.
Hy het ook by vele sport- en kultuurgeleenthede al sy koshuis, Huis Hennops, met trots verteenwoordig.
As eerstejaar is Matthew verkies tot die Universiteit se Gemeenskapskomitee, waar hy die geleentheid gekry het om sosiale netwerke te ontwikkel en ‘n verskil in die gemeenskap te maak.
Luës het ook as ambassadeur vir Akademia opgetree by geleenthede soos hul 2024 Kampus Opedag en Groot FM-radiostasie se “Skool met die Grootste Gees” projek wat elke Vrydag by ‘n ander skool in Pretoria plaasvind.
Matthew het verder die geleentheid gekry om sy redenaarsvaardighede ten toon te stel, waar hy opgeneem was in die Akademia-span wat teen ander universiteite meegeding het in die nasionale “Dink of Sink” debatkompetisie.
Op die sportveld het Matthew ook nie terug gestaan nie en was deel van die Universiteit se aksie-krieketspan wat die jaar as wenners in hul liga uitgetree het en op 27 Julie het Matthew deelgeneem aan die Huis Hennop se boksaand, waar hy nog ‘n wen vir die koshuis ingepalm het.