Local news

Heidelberg maak reg vir groot makietie

Die unie-sportvelde kry 'n nuwe baadjie waar alle sportmanne en vroue kan skitter.

Heidelberg is besig om vere reg te skud vir die groot makietie om die Dorp van die Jaar titel te vier.

Met die toekenning van Dorp van die Jaar is die titel nie net ‘n erkenning van Heidelberg se ryk geskiedenis en erfenis nie, maar ook ‘n belofte vir die toekoms.

Met die werk wat Heidelberg Hoop reeds gedoen het en die projekte wat op hul kerf is, beoog hulle om met die ondersteuning van die gemeenskap die dorp na sy volle potensiaal te herstel en ‘n bestemming van keuse vir toeriste te maak.

Heidelberg se infrastruktuur het oor die afgelope jare agteruit gegaan. Slaggate, rommel, onsigbare padtekens en vervalle sportgronde is van die uitdagings wat die dorp in die gesig staar.

Die hokkievelde is in samewerking met die Hoër Volkskool herstel.

Heidelberg Hoop moes kort na die aankondiging op Kwêla gemaak is dat Heidelberg die wendorp vir 2024 is, ‘n projekplan indien vir wat hulle met die wengeld van R1m beplan. Aangesien die organisasie reeds voor die aankondiging besig was om die infrastruktuur en sekuriteit in die dorp op te skerp, is daar besluit om die wengeld te gebruik om die unie-sportvelde te herstel en te omskep in sportgronde waar onder andere krieket, tennis, rolbal, muurbal, hokkie en later ook rugby en sokker beoefen en veral bevorder kan word.

Om die sport velde te herstel en te omskep in ‘n sport fasiliteit waarop die dorp trots kan wees en wat sport liefhebbers sal lok, is die hoofdoel.

“Ons moet die unie-sportvelde projek teen einde Oktober finaliseer en beoog om dan ‘n Heidelberg Sport Vereniging te skep wat die vaandel sal wees vir alle sport wat in die dorp beoefen word,” het Albert Grobler van Heidelberg Hoop vertel.

Die span van Heidelberg Hoop, vrywilligers en Lesedi Plaaslike Munisipaliteit besig om die elektriese infrastruktuur by die unie-sportvelde te herstel. Lucy Motloung, Solomon Simbeni, July Mashilo, Riaan du Rand en Andries Mofokeng is opgewonde oor die projek.

Met die huidige toestand van die unie-sportvelde mag dit dalk lyk na ‘n onbegonne taak maar met die dryfkrag van Heidelberg Hoop is daar beslis ‘n groen lig (of veld) aan die einde van die tonnel.

Heidelberg Hoop se span werk nou saam met die Lesedi Plaaslike Munisipaliteit en die unie-sportvelde sportgrond projek maak goed vordering.

Die heining reg om die velde is herstel en beveilig, elektriese kabels is vervang en die totale elektriese infrastruktuur is herstel.

Die krieket klubhuis wat in 2020 in ‘n brand verwoes was, word herbou, sekuriteit is opgeskerp, die rolbalbane is verlig, die tennisbaan is herstel, die muurbal klub se dak en mure is herstel, hokkievelde is in samewerking met Hoër Volkskool opgeknap en die pawiljoene word oorgeverf.

Hoop Tuin waar populierbome in Augustus geplant is.

Die Heidelberg Hoop span het ook gesorg vir werkskepping en saam met vrywilligers hande met Lesedi Community Centre gevat.

Nolan Williams, LCC se operasionele bestuurder het vertel dat daar inwoners is met baie vernuf en dit vir elkeen weer ‘n lekker uitdaging is om harde handewerk te verrig.

“Heidelberg is ‘n gemeenskap wat saamwerk en dit is vir ons ‘n eer om deel te wees van die Heidelberg Hoop span,” het Nolan gesê.

Vir ons gaan dit alles oor liefde vir mekaar en veral vir ons pragtige dorp,” het hy bygevoeg.

Behalwe vir die unie-sportvelde projek, het die gemeenskap nie geskroom om moue op te rol vir ander projekte nie.

Die Heidelberg Hoop Tuin op die hoek van Du Preez en Jacobstrate spog met klein populierbome wat in Augustus aangeplant is.

Rolbalbane is herstel met nuwe spreiligte wat die baan verlig.

Die tuin is Henda Bonsma van Born 2 Care se inisiatief en daar word beplan om 280 bome in die vorm van ‘n kruis te plant, rusbanke en ‘n fontein te installeer en op elke boom ‘n QR-kode plaatjie te hê. Besoekers kan die kode skandeer en die skakel sal hul na ‘n inwoner van Heidelberg se storie van hoop vat.

Die voorkoms en styl ikoon van Heidelberg, Sandra Taljaard is ook by verskeie Hoop projekte betrokke en een daarvan is Mej Heidelberg Hoop.

Dié kompetisie is vir ongetroude dames tussen 16 en 24 jaar wat ‘n hart het vir die gemeenskap en bereidwillig is vir gemeenskap skoonmaak projekte. Mej Heidelberg Hoop moet in haar kroningsjaar ‘n welsynorganisasie aanneem.

Taljaard is ook betrokke by die Pink Derby wat op 2 November tydens die groot makietie sal plaasvind. Die derby behels ‘n prettige wedren waar mans en vrouens hul drafskoene verruil vir hoëhak skoene en sal ten bate wees van Solidariteit Helpende Hand se ‘Help ‘n Hetta’ en ‘Help ‘n Hendrik’ projek wat sanitêre- en badprodukte verskaf aan dié wat dit nie kan bekostig nie.

Vir die groot makietie van 1 en 2 November om die Dorp van die Jaar toekenning te vier, sal daar ‘n groot fees in Heidelberg gehou word met musiek, kos, en pret vir die hele gesin.

Die tennisbane sien goed uit daarna nadat dit herstel is.

Kwêla gaan die geleentheid verfilm, wat later die jaar uitgesaai sal word. Hierdie viering is ‘n geleentheid vir inwoners en besoekers om die unieke gees van Heidelberg te ervaar.

Die geliefde Klein Kwagga van Balfour sal ook deel maak van die feesvieringe en saam met Grill King, bekend vir sy groot beesvleis burgers, ‘n unieke burger bekendstel.

“Ons werk lang ure om al die projekte te finaliseer voor die makietie en is opgewonde oor die feesvieringe,” het Nicolene Neveling, woordvoerder van Heidelberg Hoop gesê en bygevoeg dat enige hulp of bydraes van die gemeenskap sal help.

Kwêla dra slegs ‘n deel van die kostes vir die fees en die dorp moet sorg vir die res.

“Ons beplan ‘n onvergeetlike makietie wat oud en jonk sal lok maar veral sal sorg dat Heidelberg die bestemming van keuse vir toeriste sal wees en dat elke sportliefhebber op ons splinternuwe unie-sportvelde kan kom skitter,” het sy bygevoeg.

Vrywilligers van Lesedi Community Centre is besig om die pawiljoene oor te verf.

Heidelberg Hoop het die inwoners van Heidelberg herenig om ‘n beter omgewing vir almal te skep en die pragtige dorp met sy ryk erfenis te herstel na glorie met ‘n welverdiende titel van Dorp van Jaar 2024.

Andries Mofokeng (54) van Lesedi Plaaslike Munisipaliteit het terwyl hy besig was met elektriese kabels by die unie-sportvelde gesê dat hy in sy leeftyd in Heidelberg waar hy grootgeword het en werk, nog nooit so opgewonde was vir ‘n nuwe fase in die dorp nie.

Vir meer inligting of om betrokke te raak, kontak Neveling by 072 840 0205 en hou die sosiale bladsye van Heidelberg Hoop dop.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button