Local news

Volkskool vier 110 jaar van tradisie en trots

Die skool se amptelike opening was 26 Januarie 1915 deur John Adamson (direkteur van onderwys) waargeneem.

gaste, leerders, onderwysers asook oud-leerders van die Hoër Volkskool het op 27 Januarie die skool se 110de bestaansjaar op die rugbyveld gevier.

Die skool se amptelike opening was 26 Januarie 1915 deur John Adamson (direkteur van onderwys) waargeneem.

Die hoofseun van Volkskool, Biehan Wepener, het die verrigtinge amptelik geopen en almal verwelkom.

Johan Fritz, ‘n voormalige leerder in 1963 het die gaste en leerders toegespreek.

“Volkskool en die leerders is ‘n blink ster in ons toekoms. Elkeen het ideale wat hulle nastreef en moet trots wees op wat hulle bou terwyl hulle in die skool is.

“Glo in jou ideale en styg uit in jou toekomsplanne,” het Fritz gesê.

Volkskool skoolhoof, Sias Botha was volgende aan die woord, “Die herdenking is ‘n groot mylpaal in die skool se geskiedenis.

“Akademie en sport in die skool is iets waarop ons baie trots is.

“By die skool het ons trotse tradisies en waardes wat ons daagliks nastreef. Om die waardes na te streef kan ‘n hulpmiddel wees om sukses te behaal en om karakter en selfstandigheid te ontwikkel. Wees ‘n invloed op ander se lewens en streef daagliks om te verbeter” het Botha gesê .

Michael van der Westhuizen, wat in 1961 ‘n Volkie leerder was het afgesluit met, “Om op 110 jaar van geskiedenis terug te kyk, is om te besef dat hierdie skool nie net ‘n gebou is nie, maar ‘n bakermat van tradisie, ‘n sentrum van uitnemendheid en bowenal, ‘n tweede huis vir geslagte jongmense wat hier gevorm is.

“Toe Volkskool sy deure vir die eerste keer oopgemaak het, kon niemand voorspel watter diep en blywende impak dit op die gemeenskap sou hê nie.

“Vandag, 110 jaar later, staan ons hier met trots, want hierdie skool is steeds ‘n bastion van kennis, kultuur en karakterbou.

“Elke kind wat deur hierdie gange gestap het, het ‘n unieke storie. Sommige van hulle het groot drome gehad; drome om dokters, ingenieurs, kunstenaars of leiers te word. Ander het nie net akademiese prestasies bereik nie, maar ook die waarde van respek, harde werk en deursettingsvermoë geleer. Waardes is nie net oorgedra deur handboeke nie, maar deur die voorbeeld van toegewyde onderwysers.

“Om 110 jaar te bereik is nie net ‘n toevallige prestasie nie. Dit is die gevolg van harde werk, toewyding en liefde vir opvoeding.

“Ons eer vandag almal wat deel was van hierdie lang pad was; die stigters, onderwysers, leerders en ouers wat met geloof in hierdie skool belê het,” het Van der Westhuizen verder uitgebrei.

“Ons moet ook erken Volkskool se sukses is onlosmaaklik verbind aan die gemeenskap.

“Al die mense van Heidelberg het deur die jare bewys dat die ondersteuning van ‘n gemeenskap die grondslag is waarop ‘n skool kan floreer.

“Terwyl ons vandag na die verlede kyk, kyk ons ook vorentoe.

“Die wêreld het oor die laaste 110 jaar dramaties verander, en die uitdagings wat ons vandag in die gesig staar, is baie anders as dit wat in die begin was. Tegnologie, globalisering en sosiale verandering bring nuwe kompleksiteite mee.

“Maar ek weet Heidelberg Volkskool is gereed vir die toekoms. Hierdie skool het keer op keer bewys dit kan aanpas en groei, dat dit innoverend kan wees terwyl dit steeds sy kernwaardes behou.

“Aan die leerders wat vandag hier sit; onthou, julle is deel van ‘n trotse geskiedenis. Die toekoms van hierdie skool, hierdie gemeenskap, en selfs ons land, lê in julle hande.

“Gebruik die geleenthede wat hierdie skool bied, wees trots op waarvandaan julle kom, en wees die ligdraers vir die geslagte wat ná julle kom.

“Aan die personeel, ouers, en ondersteuners; julle rol is onontbeerlik. Julle is die ruggraat van hierdie skool. Julle onselfsugtige bydraes maak dit moontlik dat Volkskool nie net bestaan nie, maar blom.

“Ons moet hierdie 110de bestaansjaar met trots vier.

“Laat ons onthou waar ons vandaan kom, maar ook met hoop en visie na die toekoms kyk.

“Mag Volkskool nog vir baie jare ‘n plek van inspirasie, groei en prestasie bly. Baie geluk met hierdie mylpaal en dankie aan almal wat hierdie skool ‘n instelling gemaak het waarop ons almal trots kan wees,” het van der Westhuizen afgesluit.

Na die feesviering het die skool se leerders die skoollied uit volle bors gesing en die leerlingraad het ballonne losgelaat.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button