Berge kry die wind van voor in vriendskaplike wedstryd
Die eerste vriendskaplike wedstryd het getoon dat daar nog baie voorbereiding gedoen moet word vir die kompeterende seisoen wat voorlê.

Heidelberg Rugbyklub het hul eerste vriendskaplike wedstryd van die seisoen op 15 Februarie gespeel.
Die Sasolburg Kobras het na Heidelberg gereis vir die kragmeting.
Sasol Kobras het Heidelberg 38-3 getroef.
Dit was duidelik dat daar nog baie spinnerakke in beide spanne se kaste is wat afgestof moet word vir die seisoen.

Van die begin van die wedstryd het al twee spanne die bal lug probeer gee en deurgaans gepoog om die basiese dinge reg te doen.
Die spanne het te los gespeel en talle hanteerfoute gemaak.
Sasol het eerste kans gekry om punte aan te teken maar het met ‘n 60m strafdoel misluk toe die bal veels te kort geval het.
Daarna het Berge baie van die speelwerk gedoen en ‘n strafskop afgedwing tussen die middellyn en kwartlyn in Sasol se gebied.

Berge se heelagter, Kevin Schutte het die eerste punte aangeteken. Dit was ook Heidelberg se enigste punte in die wedstryd gewees.
Die Kobras het in die 32ste minuut hul eerste punte aangeteken met ‘n drie.
Daarna het Sasol nog twee verdere drieë gedruk.
Die halftyd telling was 15-3 in die guns van Sasol Kobras.

In die tweede helfte het Sasol Kobras drie verdere drieë gedruk, wat al drie verdoel is.
Daar was altesaam 27 strafskoppe in die wedstryd waarvan 15 strafskoppe deur Heidelberg afgestaan was.
Negentien skrums was in die wedstryd toegeken; Heidelberg het 13 skrums gehad en daar was 15 lynstane in die wedstryd.
