Blink toekoms vir plaaslike skopbokser Arno Carstens
Volgens afrigters en organiseerders het Arno baie potensiaal en sal hulle graag meer van hom in die ring wil sien.
Suid Afrika se skopboks toekoms lyk blink danksy talentvolle jongelinge soos Arno Carstens.
Carstens is ‘n Graad 10 leerder by Hoër Volkskool en het onlangs Gauteng verteenwoordig tydens die K1-nasionale Kampioenskappe en teen die Afrika-kampioen te staan gekom in ‘n opwindende geveg.
Alhoewel Carstens op punte verloor het, en weggestap het met silwer het hy ‘n indrukwekkende geveg gelewer wat sy vaardigheid en vasberadenheid getoon het.
“Arno het baie potensiaal en ons sal graag meer van hom wil sien in die ring.” het organiseerders en afrigters gesê.
Arno se ware passie is MMA. Hy sal volgende maand vir die Gauteng span aan die MMA Nasional Kampioenskappe in Durban deelneem waar hy ‘n blywende indruk sal probeer maak.
Carstens hoop dat sy skopboks talent hom ‘n plek in die Suid-Afrikaanse jeug MMA span sal besorg wat later die jaar aan die IMMAF Wêreld Kampioenskappe in Abu Dhabi sal deelneem.
As hy suksesvol is, sal hy SA vir die vyfde keer internasionaal verteenwoordig.
Carstens se K1 afrigter is Stefan Pretorius van Ability Academy. Sy MMA afrigter is Shane Carr van Valhalla MMA en Krag en Voedingsafrigter is Quinton Hendricks van SupaBoy.



