Heidelberg Rugbyklub se opwaardse kurwe in die Merlin Liga styg
Berge is tot dusver nog onoorwonne in die liga.
Heidelberg Rugbyklub het op 31 Mei teen VUT in ‘n tuiswedstryd in die Valke Merlinliga te staan gekom.
Die eerste span het VUT 67-7 kafgedraf.
Die Berge se agttal het gewys dat hulle ‘n krag in die liga sal wees en het VUT se voorry sag gemaak.
Dit het die agterlyn vrye teuels gegee om van alle hoeke af op die veld aan te val.

Heidelberg het 11 drieë en ses doelskoppe aangeteken, terwyl VUT een drie en ’n doelskop in punte omskep het.
Kaptein Nantus Mouton het drie keer agter die pale gaan kuier en Morné Vermeulen en JJ Mienie het twee drieë elk gedruk.
Heidelberg se puntemakers was drieë: Nantus Mouton (3), Morné Vermeulen (2), JJ Mienie (2), Henry van Biljoen (1), Brendan Ryan (1), Francois Vorster (1) en Alvin Jansen (1), doelskoppe: JJ Mienie (4) en Francois Vorster (2)
Die tweede span het die VUT-tweedes met 20-5 geklop.

Die puntemakers was: drieë: Sakkie Tait (2), James Atterbery (1), doelskop: Adrian Villiers (1) en strafdoel: Adrian Villiers (1).
Heidelberg speel hul volgende wedstryd teen Kempton Wolwe op 7 Junie op Berge se tuisveld.
Die tweedes skop af om 14:40, en die eerste span draf om 16:00 op die veld.”




