Local newsSport

Top prestasies vir Nigel en Heidelberg JKA karatekas

Tydens die swartgordelgradering het Heidelberg besonder goed gevaar, en vyf lede van die dojo’s het hulle onderskeie swartgordels verwerf.

Heidelberg en Nigel se JKA-karatestudente het puik gevaar tydens die Suid-Afrikaanse kampioenskappe en die Afrika Beker, wat vanaf 20 tot 24 Mei plaasgevind het.

Twee van JKA Japan se hoofkantoorinstrukteurs, Shihan Yasunori Ogura en Shihan Koichiro Okuma, het Suid-Afrika besoek om seminare, internasionale kwalifikasies en swartgordelgraderings te behartig.

Voorts het hulle ook die Afrika Beker en die nasionale JKA-kampioenskappe gekom oorsien.

Sensei Bernard Raubenheimer en shihan Yasunori Ogura.

Gedurende die eerste twee dae het die twee instrukteurs ook vier klasse aangebied.

Dit is bygewoon deur ongeveer 1 000 SA JKA-studente van alle kleure gordels; die meerderheid was swart gordels.
Die oefeninge was daarop gemik om die standaard van SA JKA in lyn met Japan te bring.

Shihan Ogura, visehoofinstrukteur van JKA, was in sy skik met die standaard van SA JKA-studente.

Tydens die swartgordelgradering het vyf lede van die Heidelberg-dojo’s hulle eerste shodan swartgordels verwerf: Charl van Niekerk, Muhammed Badat, Dylan Ras, Marcel Opperman en Ruben Marais.

Heidelberg het ‘n 85% slaagsyfer gehad, wat heelwat hoër is as die nasionale slaagsyfer.

JKA Japan instrukteurs, shihan Yasunori Ogura en shihan Koichiro Okuma.

Daarna het die grootste karatekampioenskappe buite Japan en in Afrika op 24 en 25 Mei by die Ellis Park Binnenshuise Arena plaasgevind.

Die JKA Afrika Beker/Nasionale SAJKA Kampioenskappe het op agt vloere afgespeel waar meer as 4 500 karatekas van nege lande en al Suid-Afrika se provinsies deelgeneem het.

Daar was altesaam 412 afdelings waar sake uitgespook was. Van die deelnemende lande was Mauritius, Madagaskar, Kenia, Zambië, Botswana, Zimbabwe en Tanzanië.

Altesaam 54 studente van sensei Bernard Raubenheimer se dojo’s (Heidelberg en Nigel) het reeds in Maart hulle Gauteng-kleure verwerf en gekwalifiseer om aan die SAs deel te neem.

Die karateka aan wie swart gordels toegeken is.

Sy karatekas het 12 goue medaljes, sewe silwer en 11 brons medaljes verower en 25 studente het hul nasionale kleure verwerf.

In die proses lewer Raubenheimer se dojos ook 10 Afrika kampioene op.

Raubenheimer het tydens die kampioenskappe ’n sertifikaat ontvang vir sy 50 jaar in JKA-karate en die bydrae wat hy tot die organisasie gelewer het.

Van die dojo se elite medalje wenners was Liezel Raitenbach, Chriselda Viljoen, Diandre Botha, Matteo Res, Divan Kotze, Liani Potgieter, Leny Fremouw en Tanja Roets.

Die karatekas op die vloer.

“Ek is trots op elkeen van my studente wat aan die nasionale kampioenskappe deelgeneem het,” het Raubenheimer gesê. Hy is reeds die afgelope 51 jaar by karate in Heidelberg betrokke en het al talle nasionale kampioene en swart gordels opgelewer.

Die Heidelberg SAJKA-dojo oefen Maandae tot Donderdae by Hoër Volkskool, terwyl die Nigel-dojo Maandae en Woensdae in die NG Moedergemeente-kerksaal (Kerkstraat) oefen.

Kontak Raubenheimer by 083 489 8231 vir meer inligting.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button